Delmas Diereskuiling verkeer in nood
Die Delmas Diereskuiling is ’n niewinsgewende organisasie (NPO no.: 2018/275291/08) wat gedryf word deur ’n ma- en dogter-span met harte van goud en ’n onstuitbare omgee en liefde vir diere.
Met die feesseisoen op ’n einde, staar die werklikheid die span van die Delmas Diereskuiling vierkantig in die oë.
Dié werklikheid is dat me. Jorinda en me. Jolandie Verwey steeds vir sowat 130 honde, 26 katte, perde, donkies, ganse en baie ander diere op ’n daaglikse basis moet kos gee en versorg.
Die Delmas Diereskuiling is ’n niewinsgewende organisasie (NPO no.: 2018/275291/08) wat gedryf word deur ’n ma- en dogterspan met harte van goud en ’n onstuitbare omgee en liefde vir diere.

Soos gewoonlik gebeur tydens die feesseisoen het die vroue ook weer ’n inname van weggooi diere gehad.
“Nog monde om te voed. Die diere wat hier afgelaai word, is meestal in ’n baie verwaarloosde toestand en het soms dringend mediese behandeling nodig.
“Dit is meestal hartseer diere-gesiggies in nood vir skuiling, kos en liefde,” het me. Verwy (Jorinda) Streeknuus meegedeel.
In ’n desperate poging het die eienaars van die Delmas Diereskuiling (NPO no.: 2018/275291/08) ’n projek begin waarin lede van die publiek ’n dier kan borg.
“Ons doen ’n beroep op die diereliefhebber daarbuite dat as jy nie ’n dier kan aanneem nie, jy nog steeds ’n diere-hartjie kan bly maak deur die dier te borg totdat dit dan wel aangeneem word,” het sy verder gesê.
’n Dier van eie keuse kan geborg word. Die opsie vir aanneming is steeds die aangewese stap en die skuiling kan gekontak word om die aannemingsproses te bekom.

Die aanhoudende en deurdringende reën van die afgelope tyd veroorsaak verder dat die skuiling nie kan voorbly met droë komberse en kos vir die diere nie.
Die ma- en dogterspan vra daarom ook vir skenkings van komberse, hondekos, katkos, voer vir die plaasdiere, speelgoed vir die honde en katte, en ook katsand.
Met die gedurige inname van verwaarloosde diere moet daar ook voortdurend nuwe hokke en skuilings opgerig word en boumateriaal word daarom verwelkom.
Die Verwey-vroue nooi die publiek om hulle te kontak of selfs die skuiling te besoek ten einde hulleself te verwittig van die omstandighede waarin hulle hul bevind.

Ten spyte van die swaarkry en daaglikse stryd om hul diere te versorg, bly die twee vroue staande en hou die liefde en omgee vir diere hul staande.
Vir meer inligting kan die Delmas Diereskuiling se Facebook-blad besoek word of skakel of Whatsapp vir Jorinda by 076 808 6684 of Jolandie by 060 613 1048.




