Die middedorp gaan onder watervoorsieningsprobleme gebuk.
Vrae en klagtes word met reëlmaat op ’n Whatsapp-groep aangemeld met sommige inwoners wat vyf dae sonder lopende water moes klaarkom.
Die Kieserstraat-reservoir loop gereeld oor waarvan die instandhouding bevraagteken word.
Strate soos Caledon, Kerk, Beyers Naudé, Leyds, Berg, Stander, Vry en Charl Cilliers se toevoer blyk gebrekkig te wees.
Die Standerton Advertiser het op Woensdag 5 Januarie met die wykraadslid, me. Wilma Venter, in verbinding getree.
Me. Venter het onderneem om inligting tot haar beskikking deur te gee soos of die pompe by die reservoir in werkende orde is, en of opgradering van die reservoir enigsins in die afsienbare toekoms kan realiseer.
Volgens me. Venter, is ’n 5 megaliter reservoir in die pyplyn, asook ’n 0,3 megaliter ‘pressure tower’.
Voorts is daat drie pompe waarvan twee vir herstelwerk ingestuur is.
“Dit is vir my baie sleg dat die gemeenskap daagliks moet sukkel sonder water in hul krane, terwyl duisende liters in ons strate vermors,” het me. Venter gesê.
“Ek is egter positief omdat daar uitendelik ’n langtermynoplossing op die tafel is wat in die toekoms gaan help om water aan die gemeenskap te voorsien.”
Een inwoner het die vraag geopper of kleppe toegedraai word omdat wyk 10 en wyk 8, na bewering, nie tegelykertyd van water voorsien kan word nie.
Die Standerton Advertiser het op Vrydag 7 Januarie by me. Thobeka Mtshiselwa, kommunikasiebestuurder van die Lekwa Munisipaliteit, navraag oor dié situasie gedoen.
Me. Mtshiselwa het aangedui dat die ‘booster pump’ onklaar is en herstelwerk benodig.
’n Nuwe pomp sal na verwagting teen Dinsdag 10 Januarie op die dorp wees.



