News

Ma van Kinross sukkel steeds om medikasie vir gestremde seuns te kry

Hospitaal se uitvoerende beampte sê pasiënte word ingelig.

Die ma van twee gestremde tienerseuns sukkel steeds om hul medisyne by Evander Hospitaal te kry.

Rudolph (15) en Francois (16) van Staden ly aan ses verskillende siektetoestande wat ADHD (hiperaktiwiteit), epilepsie, outisme, disleksie, skoliose en ’n rare sindroom genaamd Angelman-sindroom insluit.

Dié ma, me. Franciska van Staden, het op Donderdag, 6 Januarie hospitaal toe gegaan om medikasie te kry en hospitaalpersoneel het gesê sy moet oor twee weke weer teruggaan.

Ridge Times het in Desember op ons webwerf, www.ridgetimes.co.za, oor dié gesin se probleme met Evander Hospitaal berig. Departement van Gesondheid het toe nog nie kommentaar gelewer nie.

Me. Van Staden het gesê die gesin sukkel.

Die hospitaal se hoof uitvoerende beampte, me. Madala Ndlovu, het egter intussen kommentaar gelewer en gesê die spesifieke medikasie wat vir die seuns voorgeskryf is, was verlede jaar tydens een van die geleenthede toe die gesin by die hospitaal was, uit voorraad.

“Spesiale reëlings word getref vir pasiënte rakende hul medikasie en dit word aan hulle verduidelik,” het me. Ndlovu gesê.

“’n Tekort aan medikasie het ’n wêreldwye krisis geword omdat Covid-19 veroorsaak het dat die in- en uitvoervoorsieningskettings provinsiaal asook nasionaal, beperk is.

“Al die staatshospitale in Mpumalanga word deur een sentrale punt gediens en as dié punt nie voorraad het nie, word al die hospitale daardeur geraak.”

Me. Ndlovu het gesê as Evander Hospitaal nie sekere medikasie in voorraad het nie, gee hulle gewoonlik ander medikasie, of as die hospitaal uit opsies hardloop, moet die pasiënte dan die medikasie gaan koop.

Een van die ander probeleme wat me. Van Staden met Evander Hospitaal gehad het, was toe sy in Oktober verlede jaar een van die seuns reeds vroeg die oggend by die hospitaal gehad het omdat hulle vandaar na Witbank Hospitaal sou gaan waar Francois se rug geopereer moes word. Die hospitaalpersoneel het toe glo gesê die bussie wat die pasiënte na Witbank vervoer, is vol.

Me. Van Staden onthou hoe sy en Francois op dié dag in Oktober, reeds om 04:00 by Evander Hospitaal was omdat die bussie gewoonlik om 06:00 vertrek.

“Francois se tas was gepak en alles, dit was vir my ’n uiters belangrike dag,” het me. Van Staden gesê.

Volgens haar het die bussie glo met elke rit net ander pasiënte wat eers ná me. Van Staden by die hospitaal aangekom het, opgelaai en sy is meegedeel dat die bussie vol was elke keer wat sy gevra het.

Teen 14:00 het sy huis toe gegaan omdat Francois toe reeds moeg en honger was en sy nie ekstra kos vir hulle saamgeneem het nie.

Me. Van Staden het gesê sy het nooit weer ’n woord van die hospitaal gehoor dat die operasie uitgestel is of enige ander nuus nie.

Me. Ndlovu het gesê volgens die vervoerdiens wat pasiënte na Witbank Hospitaal vervoer, lig hulle pasiënte in as die bussie vol is dat hulle in die hospitaal moet wag vir die volgende rit en as dit nodig is, moet pasiënte ’n ander datum bespreek.

“As pasiënte ongelukkig is, kan hulle altyd gebruik maak van die klagtes- en voorstelle-stelsel by die hospitaalbestuur wat altyd gereed is om die gemeenskap te dien,” het me. Ndlovu gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button