Vullisraper vind man se lyk langs N12
Die liggaam het verskeie wonde gehad en dit wou voorkom of dit koeëlwonde kan wees.
’n Man wat bottels bymekaarmaak vir ’n ekstra inkomste het op meer as net bottels op die N12 afgekom.
Die vullisraper het verlede week glo aan die N12 in die omgewing van die Groenfontein-afrit gestap, toe hy die liggaam van ’n man teen die heining sien lê het.
Hy het ’n lid van die plaaslike verkeersdepartement, mnr. Paul Mahlangu, daarvan in kennis gestel.
Mnr. Mahlangu het op sy beurt die Delmas Polisie op Dinsdag, 4 Januarie omstreeks 13:15 daarvan verwittig.
Met die polisie se aankoms op die toneel was die liggaam van ’n onbekende man gevind.
“Die man was slegs in ’n blou kortbroek geklee en blyk in sy dertigs te wees,” het kapt. Carla Hartley, mediawoordvoerder vir die Delmas Polisie,gesê.
“Die liggaam het verskeie wonde wat moontlik koeëlwonde kan wees,” het kapt. Hartley verder gesê.
Die publiek word versoek om adj.-offisier Jacques Smook by 082 527 2947 te kontak as hulle oor enige inligting omtrent die onbekende man beskik.



