Chantelee van Tonder van Standerton vasberade om te bly oefen
’n Breinskandering en lumbale punksie (lumbar puncture) is nou haar voorland, hoewel sy kleinkoppie trek.
’n Vrou van Standerton met ’n ongewone geskiedenis, rebelleer teen ’n outo-immuunsiekte deur daagliks, behawe Vrydae, saam met haar hond, Shiloh, sowat 5km te draf.
Me. Chantelle van Tonder het op haar kerfstok liggaamsboukompetisies, ’n klereontwerptoekenning of twee en is gekwalifiseer om fiksheidklasse aan te bied.
As ’n boorling van Bloemfontein, het sy na skool in sowel die Rosestad, as Oos-Londen, groepklasse aangebied en is Pretoria toe gelok met ’n werksaanbod by ’n gimnasium in Lynnwood.
“Na drie maande het die gimnasium gevou,” het Chantelle gesê.
Haar twee seuns, Jaden en Taylor, het as’t ware in die gimnasium grootgeword en al drie se hartsbegeerte is om eendag saam op ’n verhoog te staan.
’n Vriend het haar in 2018 na Standerton genooi om te kom kyk of sy nie hier haar brood en botter kon verdien nie.

Hy het uiteindelik Pongola toe getrek en die gesin is in die diepkant ingegooi.
“Ons moes water trap en swem,” aldus Chantelle.
Haar laaste liggaamsboukompetisie was in 2019 en sy spog met Grens- en Vrystaat-kleure in dié sport.
In Mei daardie jaar het sy die eerste drie simptome van haar siekte gevoel.
“My hande het begin spasmas kry, maar ek het dit stil gehou.”
Chantelle het destyds naaldwerk gedoen en aanvanklik gedink sy het Lou Gehrig se siekte onder lede.

Dié neurodegeneratiewe siekte het ’n invloed op senuweeselle in die brein en rugmurg.
“My ouderdom het natuurlik ook saamgespeel en ek het vir agt maande nie daaroor gepraat nie.”
’n Atleet by die parkrun op Standerton het opgetel dat daar fout was en hy en sy vrou was bekommerd.
Die simptome het versprei na haar linkervoet, linkerheup en regterskouer en haar spraak is ook aangetas.
“Die simptome kom en gaan,” het sy ook gesê.
Geheuegewys kan sy haar in ongemaklike situasies bevind as sy nie ’n ordentlike gesprek kan voer nie.
Covid-19 het daarna haar planne om hospitaal toe te gaan, in die wiele gery.
“Ek was op ’n baie slegte plek.
“Hoe hanteer ’n mens so iets? ”

Hoewel sy kortstondig kon vergeet dat sy siek was, veral as sy in die son was, het haar simptome weer hul verskyning verlede winter gemaak.
’n Breinskandering en lumbale punksie (lumbar puncture) is nou haar voorland, hoewel sy kleinkoppie trek.
“My immuunstelsel is swak en ek moet mooi kyk na wat ek eet.”
Sy oefen nou met klein gewiggies en silikoonbande by die huis en moes ’n kopskuif maak.
“Ek was gewoond aan swaar gewigte en moes die sielkundige aanpassing maak.”
Dié alleenloper het op haar dag ’n matriekafskeidsrok ontwerp wat in ’n gesinstydskrif aangewys is as matriekrok van die jaar en het in 2006, by die Durban July, haar hand aan ’n donker, turkoois rok, versier met pouvere, gewaag.
Sy is as ’n Vrystaat-finalis aangekondig.
Dit was ook duidelik by die fotosessie dat modelwerk op ’n stadium gedoen is.
Chantelle van Tonder maak steeds haar opwagting by die parkrun op Saterdae, met Shiloh wat opgewonde, al blaffende, haar dwing om te hardloop.
Haar waarneming dat sy verspreide sklerose kan hê, is nog nie amptelik bevestig nie.
“Dit is nie ’n doodsvonnis nie.”
By die huis stem die seuns saam met ma dat die 80’s vir die beste musiek ooit gesorg het.
Chantelle van Tonder, met haar sterk geloof, beskou haarself nogtans as geseënd.



