Raadslid van Delmas vas na moord op uitsmyter
VKLM raadslid Moses Mofomme (46), tesame met drie ander mans, Komogelo Moulamedi (21), Sibusiso Buda (37) en Erick Mahlangu (37) is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering vir Knowledge Kushata (28), ’n uitsmyter, vermoor het.
Die pas-verkose ANC-raadslid vir Wyk 4 in die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit op Delmas is in hegtenis geneem ná die moord op ’n uitsmyter by Khehla’s Place, ’n gewilde kuierplek in Botleng, Delmas.
Moses Mofomme (46), tesame met drie ander mans, Komogelo Moulamedi (21), Sibusiso Buda (37) en Erick Mahlangu (37), is op Maandag, 17 Januarie in hegtenis geneem nadat hulle na bewering vir Knowledge Kushata (28) vermoor het.
Volgens inligting, het ’n geveg by Khehla’s Place omstreeks 05:00 op Sondag, 15 Januarie, uitgebreek toe Mofomme glo nie toegelaat was om sy eie drank by die perseel in te neem nie.
’n Uitsmyter, Knowledge Kushata, is in die geveg dood en sy broer, Frank Kushata, ook ’n werknemer by die taverne, is drie keer met ’n mes gesteek.
Streeknuus kon bevestig dat hy (Frank) in ’n baie ernstige toestand na die Bernice Samuel Hospitaal vervoer is, maar toe later na Witbank Hospitaal oorgeplaas is.
Die presiese oorsaak van Knowledge se dood is nog nie bekend nie.
“Gegewe die feit dat die raadslid reeds formeel aangekla is, is sy lidmaatskap herroep en is hy tydelik geskors,” het Sello Matshoga, die ANC se voorsitter vir die Nkangal-streek, in ’n mediaverklaring gesê.
Matshoga het ook gesê dat hoewel die beginsel van ‘onskuldig totdat skuldig bevind is’, in dié saak erken word, die ANC die beskuldigings in ’n baie ernstige lig beskou en sal die aandag wat dit verdien daaraan gewy word.
Matshogo het verder gesê die ANC glo in die regstelsel en die oppergesag van die reg en dat hulle vertroue het in die strafregstelsel.
“Belangriker nog, die ANC doen ’n beroep op al sy lede om met wetstoepassers in dié verband saam te werk.”
“Alle ANC-leiers in die beweging moet binne die karakter van die ANC-grondwet se voorskrifte, insluitende hulle grondwetlike verpligtinge in die uitvoering van hul take, handel.”
Intussen het Diane Bath, DA-raadslid by VKLM haar opregte meegevoel met die vermoorde Khushata se familie uitgespreek.
“Wat ’n sinnelose moord.
“Ek hoop dat die skuldiges met die sterk arm van die gereg te doen sal kry,” het Bath gesê.
Die vier beskuldigdes het op Dinsdag, 18 Januarie vlugtig in die Delmas Landdroshof verskyn.
Die saak is tot Woensdag, 26 Januarie uitgestel wanneer die vier formeel om borgtog sou aansoek doen.




