Jarelange inwoner van Standerton sterf op 81 jaar
Die Rautenbachs het die sakewêreld suksesvol betree en ’n koffiewinkel en boetiek, langs mekaar, op Standerton vir sowat 10 jaar bestuur
’n Jarelange inwoner van Standerton, mnr. Andries Rautenbach (81), is aan hartversaking oorlede.
Die Rautenbachs het in 2009 met hul aftrede na die Suidkus verhuis en het hulle in 2012 op Ballito, aan die Noordkus gevestig.
Wyle mnr. Rautenbach en sy eggenoot, Rita het destyds ’n tuiste in die Kosmos Aftree-oord gevind, waar hy hom onderskei het as voorsitter van die uitvoerende komitee.
Dié leiersrol wat hy beklee het, is deur die jare by ander organisasies en Standerton Primary School bevestig.
Mnr. Rautenbach was onder meer president van die Rotariërsklub in die tagtigerjare en ’n Vrymesselaar.
Hoewel die egpaar nie aan ’n spesifieke denominasie in later jare behoort het nie, het sy tweede oudste dogter, me. Anneliese Scholtemeyer, hul Christenskap duidelik toegelig.

Andries Stefanus Rautenbach is op 2 Desember 1940 gebore en in 1964 met Rita Hodsdon getroud.
Hulle het op die plaas, Tweedronk, in die Standerton-distrik, ’n gemengde boerdery bedryf.
Drie kinders is uit die huwelik gebore, Mariëtte, Anneliese en Andrew.
Albei dogters was uitruilstudente op hul dag en het die buiteland verken.
Andrew en sy gesin, met sy skoonouers, het ook na Ballito verhuis.
Die Rautenbachs het die sakewêreld suksesvol betree en ’n koffiewinkel en boetiek, langs mekaar, op Standerton vir sowat 10 jaar bestuur
“Hy sal onthou word vir sy sterk karaktereienskappe en goeie sin vir humor,” het Anneliese gesê.
Hy word oorleef deur sy vrou, twee dogters en hul gades, Johan en Verdi, sy seun, Andrew en skoondogter, Brigitte en kleinkinders, Lize, Ashlyn en Elri.
’n Herdenking van sy lewe is op 31 Januarie om 11:00 by die Simbithi Country Club op Ballito gehou.



