MunicipalNews

Mense moet nie Bronkhorstspruit se kraanwater drink nie

“Daar is geen aanduiding oor enige tydraamwerk van wanneer die water herstel sal word nie.”

“Moet asseblief nie hierdie water gebruik nie. Die water is nie gesuiwer nie!”

So maan Caranesta de Jager, ’n inwoner van Bronhorstspruit en oud-raadslid.

Inwoners het oor die naweek geen water in hul krane gehad nie, en nou is die water wat wel beskikbaar is, vuil.

“Rouwater word in die reservoirs gepomp.

“Ek het ’n amptenaar gevra hoe hulle rouwater in die reservoirs kan pomp, sy reaksie aan my was: ‘Wat is jou voorstel, want mense baklei as daar geen water is nie,’” het De Jager gesê.

Inwoners se water is ondrinkbaar. (Foto: Verskaf)

Inwoners van Riamarpark sukkel al vir baie jare met die gebrek aan instandhouding van die hoofwaterlyn wat Riamarpark van drinkwater voorsien.

Elke keer as die grond vries, stort ’n ander gedeelte van die ou asbespyp ineen.

Nog ’n voormalige raadslid, Cecilia Knox, woon al sowat 40 jaar in Riamarpark.

Sy meen die water word al vir ’n geruime tyd nie meer gesuiwer nie.

“Die verskoning is: “weens die swaar reën”.

Die aanoudende reën die afgelope paar dae het glo die rouwater in die Bronkhorstspruitrivier se troebelheid laat toeneem.

Bronkhorstspruit se watersuiweringsaanleg kan nie water met uiters hoë troebelheid behandel nie, en is die aanleg nou tydelik gesluit om te verhoed dat water versprei word wat nie aan die standaarde vir drinkwater voldoen nie.

Sodra die gehalte van die rouwater verbeter het, sal die suiweringsaanleg glo weer in werking gestel word.

’n Groot faktor in die probleem is egter dat Tshwane nie self water suiwer nie. Volgens inwoners, kry Tshwane water van Rand Water af.

Daar is verskeie vrae wat deur inwoners gevra word.

Hoekom is die gemeenskap nie in kennis gestel nie? Is die raadslede en direkteur bewus van die situasie? Hoe en van waar gaan die gemeenskap van water voorsien word?

Gebiede in Streek 7 wat geraak word, is Bronkhorstspruit se dorpsgebied, Zithobeni, Rethabiseng, Ekangala en Ekandustria.

“Verlede jaar voor die verkiesing het die Riamarpark-gemeenskap met die lid van die burgemeesterskomitee, Phillip Nel vergader. Hy het ’n verslag binne 14 dae belowe. Ons wag nou nog.

“ Hy het ’n formule ontwikkel om die skoon watervermorsing weens lekkasies te meet. Daardie ontleding moes aan ons verskaf gewees het. Ons wag nog,” het Knox bygevoeg.

Die huidige onderbreking is allesomvattend wat beteken dat geen water die reservoirs bereik nie.

Dit kan wees omdat die suiweringswerke gesluit is of daar ’n groot breek voor die verspreidingstoevoerlyn is.

“Om iemand te vind om werklike inligting oor te dra, verg ’n wonderwerk.

“Almal doen die sampioen-ding. Hou die gemeenskap in die donker en voer hulle mis.”

De Jager het die Draai en die suiweringsaanleg op Maandag, 7 Februarie besoek.

“Die kleppe by die suiweringsaanleg is oopgemaak om die vuil water terug in die rivier in te laat.

“Inligting wat by die baie verwaarloosde suiweringsaanleg verkry is, is dat net een van die drie rouwaterpompe sedert Desember 2016 werk.

“Die pomp kan nie aangeskakel word nie, want iemand moet van Pretoria af kom om die pomp te begin.

“Boonop weet niemand of die nuwe chemikalieë wat deur Tshwane gekoop is, die water sal kan suiwer nie.

“Laastens is net twee van die vyf pompe wat water na die reservoirs pomp in werkende toestand,” het De Jager gesê.

Die oud-amptenare van die voormalige Kungwini Munisipaliteit probeer glo hul bes, maar is baie gefrustreerd omdat alle magte om die aanleg te bedryf van hulle ontneem is en in iemand in Pretoria gesetel is.

Kinders van Zithobeni gaan haal ook onbehandelde water uit die rivier en dit is na bewering ook nie geskik vir menslike gebruik nie.

“Tshwane kry gesuiwerde water van Rand Water en ek glo Tshwane het nie die kennis om ’n suiweringsaanleg te bedryf as mens die gemors by Hammanskraal in ag neem waar die

Menseregtekommissie moes ingryp nie,” het De Jager bygevoeg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button