News

Cullinan se Johann Breetzke leef voluit al is hy in ’n rolstoel

“Daar in die weermag het jy sewentien sekondes uit ’n minuut om te leef so waarom sal ek nou ophou leef? ”

Tussen Jakarandabome in Cullinan is Oom Johann Breetzke (69) se wêreld pers.

Hy stoot homself af in ’n straat met geskiedenis waar hy soos ’n monument sit en die lewe aanpak een stoot op ’n slag.

Langs die pad sit dié bejaarde man in ’n rolstoel met ’n Blou Bul-hoed.

Sy oë lyk soos die hemel en sy hande soos die wat hard gewerk het. Netjies aangetrek, soms met ’n bordjie om sy nek, maar sy hart is skatryk.

“Die lewe tuimel jou om as jy vergeet vir wie om dankie te sê.” het hy laat hoor.

Selfs ’n winkel oorkant die straat is vernoem na hom, want die woorde waaraan hy geken word is “Lekker op drie plekke”.

Hy was ’n valskermbataljonlid, ’n onderwyser by ’n tegniese kollege in Pretoria en ’n beroepsgholfer, en het vir 38 jaar in die brandblusserbedryf gewerk.

Sowat drie jaar gelede het hy sy vrou aan borskanker verloor en kort daarna sy linker been wat weens gangreen eers by die tone, toe bo die enkel, later onder sy knieg en nou op sy bobeen afgesit is.

“Daar in die weermag het jy 17 sekondes uit ’n minuut om te leef, so waarom sal ek nou ophou leef? ” het Breetzke met oë vol trane gevra.

As 12-jarige seun het hy al vir Noord-Transvaal tennis gespeel en het gholf op 21-jarige ouderdom begin speel toe sy pa vir hom ’n stel gholfstokke gekoop het.

“’n ou Bobby Long-stel. Jy raak skoon bewoë as jy daardie stel bekyk. Ek het vir Bobby persoonlik geken. Hy was so nederig en het my altyd Squire genoem. Ek was baie lief vir hom.”

“As jy daardie gholfstok vashou en jy swaai en daardie stok tref die bal en hy maak ’n geluid. Jy kan dit nie verduidelik vir iemand nie. Ek het begin met ’n 24-voorgee en binne ses maande het ’n ek vier voorgee gehad.

“Daarna het ek vir Noord-Natal gaan gholf speel. My hoogtepunt was toe ek gekwalifiseer het om in die ICL te speel. ”

Vandag begeer Breetzke om ’n kunsbeen te kry sodat hy net weer op die gholfbaan kan loop.

“My mensie, as ek net vir jou weer ’n bal kan slaan dan sal my lewensparagraaf voltooi wees.”

Hoewel Breetzke dit nie aldag breed het nie, is sy optel-troeteldier met die naam, “Rambo-slaai-rocky-stallone Breetzke” sy geliefde maat.

“Ons is mekaar se huis. Hy was ’n pavement special en nou is hy oubaas se honne.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button