MunicipalNewsStreeknuus

Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit bring beloftes van hoop tafel toe

Die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit se uitstaande skuld by Eskom en Randwater beloop R678-miljoen.

Die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) se raad het ’n marathon-vergadering gehou waartydens talle beloftes op die tafel geplaas is.

Tydens die vergadering wat op Dinsdag, 8 Februarie gehou is, is punte van belang vir die inwoners van Delmas in diepte bespreek.

Een van dié punte was dat VKLM-inwoners vanaf April 2022 weer daarna kan uitsien om permanente aanstellings in die portefeuljes van munisipale bestuurder, hoof van finansies asook ’n hoof van gesondheid- en gemeenskaplike dienste te hê.

Die poste is geadverteer en onderhoude sal glo binnekort gevoer word.

Volgens Diane Bath, DA-raadslid, is die munisipaliteit in groot finansiële nood.

Die raadslede het ook die oortyd- en finansiële verslae onder oë geneem.

“Dit lyk maar beroerd,” het Bath gesê.

Hoewel daar vroeër beperkings op die betaling van oortyd aan werkers ingestel is, is dit, volgens Pieter Senekal raadslid vir die Vryheidsfront Plus, verontagsaam.

Daar is daarom glo tydens die afgelope vergadering ’n besluit geneem dat die direkteure van departemente persoonlik aanspreeklik gehou sal word vir oorbesteding.

Uitstaande krediteure op onbetaalde munisipale rekeninge beloop sowat R700-miljoen en invorderings ten opsigte daarvan, gaan glo prioriteit geniet.
VKLM se uitstaande skuld by Eskom en Randwater beloop R678-miljoen.

Die burgemeester, Vusi Buda, het beklemtoon dat die gemeenskap nie oor die afsny van water of elektrisiteit bekommerd moet wees nie, omdat die provinsie help dra aan dié astronomiese skuldlas.

Dienslewering is ook breedvoerig bespreek.

“Groot kommer is uitgespreek oor die hoeveelheid en toestand van die munisipaliteit se voertuie en toerusting wat vir dienslewering aangewend word,” het  Senekal, laat hoor.

Senekal het voorts bevestig dat daar ’n besluit geneem is om ’n volledige verslag hieroor aan die tegniese komitee vir ondersoek voor te lê.

Meterlesings, wat glad nie of verkeerdelik gelees word, het ook tydens die burgemeestersverslag te sprake gekom.

“Ek het onlangs persoonlik hierdie probleem onder die munisipale bestuur se aandag gebring. Die burgemeester het tydens die vergadering bevestig dat hy die saak sal laat ondersoek en ’n verslag aan die raad voorlê.”

“VKLM staan voor groot uitdagings, maar tydens die vergadering is die swak toestand van plaaslike paaie as prioriteit uitgelig,” het Bath verder gesê.

Bath het aan Streeknuus gesê dat daar ’n uitdaging is met die Asfalt-bestelling, maar dat lewensgevaarlike slaggate onmiddellik gevul moet word.

“Die burgemeester het belowe dat daar binne ’n honderd dae vandat hy as burgemeester herverkies is, ’n verandering sal wees. Dit is dag 86 en ons kan nog geen verbetering sien nie,” het  Bath verder gesê.

“Aanspreeklikheid en opvolgbestuur is duidelik tydens die vergadering beklemtoon,” het me. Bath bygevoeg.

“Alle planne op die tafel lyk goed en wel, maar gaan die burgemeester by sy woord hou?,” het me. Bath afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button