News

Veiligheidsorganisasies beraam planne ná rowers bus op N4 teiken

In plaaslike kringe het dit vrae laat ontstaan oor die veiligheid van skoolkinders en onderwysers wat hulle in die laatnag-ure op die paaie bevind op pad terug van sport byeenkomste.

Die Valke Buurtwag en AfriForum op Delmas wil nou dadelik plannee in plek stel om plaaslike skole se busse te beveilig.

Dít kom ná onderwysers van Hoërskool Ermelo laat Vrydagnag, 11 Februarie, op die N4-snelweg tussen Brokhorstspruit en Witbank beroof is.

Die skool het dié dag aan ’n atletiekbyeenkoms in die stad deelgeneem en die leerders en onderwysers was in verskeie busse oppad huis toe.

Dié nag was daar glo klippe in die pad gewees.

Die bussie waarin verskeie onderwysers was, het die klippe omstreeks 23:00 getref en ’n pap wiel gekry wat die busbestuurder genoop het om halfpad tussen Bronkhorstspruit en Witbank stil te hou. Volgens die busbestuurder, Johan du Plooy, het hy probeer om vir die klippe uit te swaai, maar het dit steeds getref.

Du Plooy het hierna aanhou ry totdat hy gevoel het dat die bussie begin skeef trek het.

Volgens Du Plooy, het hy skielik iets hard in sy nek gevoel, dit was die loop van ’n pistool.

’n Rower het na sy bors gemik en die sneller getrek, maar die skoot het nie afgegaan nie. ’n Tweede skoot het geklap, maar dit het net verby Du Plooy se regterbeen getrek.

Nadat ’n tweede rower op die toneel verskyn het, het Du Plooy ’n hou op die lip met die pistool, asook verskeie houe op die kakebeen gekry.

Intussen het die tweede skoolbus glo onbewus van die gebeure by die toneel verbygery.

Wat hierna gebeur het, is vasgevang op kameras wat binne die bussie geïnstalleer is.

Streeknuus is in besit van die video.

Daarop kan duidelik gesien en gehoor word hoedat die rowers die onderwysers om geld, selfone, skootrekenaars en selfs vuurwapens gevra het.

Daar kan verder gehoor word hoedat een van die onderwysers kalm aan die een rower gevra het: “Wat wil julle hê?”

Op bevel het sy geantwoord het dat hulle nie skootrekenaars of geld het nie, want hulle kom van ’n atletiekbyeenkoms af.

’n Rower het op ’n stadium die onderwysers beveel om nie na hom te kyk nie.

Een van die onderwysers kon daarin geslaag om alarm te maak omdat sy ten tye van die roof met haar verloofde op die selfoon in gesprek was.

Volgens inligting het die verloofde die polisie geskakel en ’n lid van ACSU Sekuriteit het hom na Bronkhorstspruit gehaas.

Streeknuus het gepoog om kommentaar van ’n woordvoerder van ACSU Sekuriteit, sowel as ’n lid van Hoërskool Ermelo se beheerliggaam te verkry, maar kon teen druktyd nie daarin slaag nie.

In plaaslike kringe het dit vrae laat ontstaan oor die veiligheid van skoolkinders en onderwysers wat hulle in die laatnag-ure op die paaie bevind op pad terug van sportbyeenkomste.

Lede van die veiligheidstrukture in Delmas, onder leiding van die plaaslike die plaaslike AfriForum Valke Buurtwag se veiligheidsvoorsitter, Juan Herholdt, was daar spoedig aan die werk gespring.

Teen druktyd was daar ’n noodvergadering vir Dinsdag, 15 Februarie gereël.

’n Plaaslike laerskool het ook kort ná die N4-voorval om bystand gevra vir ’n sportbyeenkoms wat op Dinsdag, 15 Februarie in Brits sou plaasvind.

Veiligheidsmaatreëls was onmiddellik in plek gestel vir die veilige monitering van die busse op hul roeted.

“Na aanleiding van die voorval by Bronkhorstspruit het ons dadelik besef dat ons iets moes doen. Ons kinders én hul onderwysers is vir ons kosbaar,” het Carel Botha, voorsitter van beide AfriForum en die Valke Buurtwag, gesê.

“Dit wek ook kommer dat kriminele daar buite nou moontlik skoolbusse as ’n sagte teiken kan beskou.

“Dit is daarom noodsaaklik dat ons dadelik planne in plek stel om hulle te beskerm,” het Botha bygevoeg.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button