Jong man van Sundra-gebied dam ouers met panga op Valentynsdag by
“Die wêreld moet egter weet, ek het ’n goeie kind. My kind is nie ’n moordenaar nie.”
’n Jong man van die Sundra-gebied het op Valentynsdag na bewering sy ma en stiefpa met ’n panga aangeval en hulle in ’n plas bloed vir dood gelaat.
Owen Stewart (24) het die aand van 14 Februarie glo buite homself geraak en sy ma en stiefpa met ’n panga aangeval.
Stewart woon saam met sy ma en stiefpa op ’n kleinhoewe in die Rietkol-omgewing.
’n Dringende radioroep vir mediese bystand kon volgens Derek Bester, voorsitter van die Sundra Bulldogs Buurtwag, hom nie naastenby voorberei het vir wat op hom en sy span gewag het nie.
“‘Die mense bloei uit’, was die boodskap wat deurgekom het.
“Toe ek die huis instap, was daar net bloed, báie bloed. Dit het kompleet soos ’n oorlogsone uit ’n horror movie gelyk,” het Bester gesê.

Volgens Bester, het hy geweet dat Stewart hom waarskynlik nog êrens in die huis bevind het, waarskynlik steeds met sy panga gewapen.
“Deur die bloed het ek die aanvaller doodluiters by die kombuistafel gesien sit.
“Ek het hom beveel om die panga van hom af weg te stoot,” het Bester vertel.
“Ons moes die omgewing beveilig sodat ons aandag aan die aanvaller se twee ernstig beseerde ouers kon skenk.”
Bester het gesê dit was duidelik dat die jong man nie by homself was nie.
Ná die panga by hom weggeneem is, kon die Bulldogs se mediese span aandag aan die ouers gee.
Stewart se ma, Charmaine Storm (55), is erg beseer.
Volgens Bester, het haar linkerhand net aan ’n velletjie gehang.
“Daar was nie veel wat ons kon doen nie. Ons moes die bloeding onder beheer kry en het toe maar net die hand in posisie gespalk.
“Sy is ook in die gesig, reg onder die linkeroor, oopgekap.”
Die mediese span het nie vir Stewart se stiefpa, Koos Storm (67), in ’n veel beter toestand aangetref nie.
“Van die bloed het reeds begin stol en sy gesig en kop was met ’n dik kors bloed bedek.”
Koos se kop is oopgekap en hy het ook skade aan sy oor opgedoen.
Intussen is ’n ambulans ontbied en albei die ouers is na die Bernice Samuel Hospitaal op Delmas vervoer.

Koos se kop moes met steke geheg word.
Volgens inligting, is hy op 16 Februarie uit die hospitaal ontslaan.
Stewart het op Woensdag, 16 Februarie vlugtig in die Delmas Landdroshof verskyn op aanklagtes van poging tot moord.
Stewart het aangedui dat hy nie geld vir regshulp het nie en het daarom om staatshulp aansoek gedoen.
Die staat het egter aangevoer dat die beskuldigde in aanhouding moet bly, omdat hy onder dieselfde dak as sy ma en stiefpa woon.
Tydens Stewart se verskyning in die hof, het hy erg senuagtig voorgekom en was die rye en rye snymerke aan sy voorarms baie opsigtelik.
’n Betroubare bron het Streeknuus meegedeel dat hy (Stewart) homself reeds sedert sy skooljare seermaak en sny.
Sy ma het dit ook aan Streeknuus bevestig.
Volgens Charmaine, ly haar kind aan depressie.
Sy het ook verskeie ander toestande wat by hom gediagnoseer is, aan Streeknuus bekend gemaak.
Weens die sensitiwiteit van die ondersoek, kan dit egter nie openbaar gemaak word nie.
“My kind gebruik dwelms ja, soms meer, soms minder. Ek kan dit nie ontken nie, maar hy het nog nooit sy hand teen my gelig nie.”
Volgens Charmaine het iets op Valentynsaand verkeerd gegaan in sy (Stewart) kop.
“Dit was duidelik dat hy nie geweet het wat hy doen nie.”
Volgens sy ma, gebruik Stewart ook voorskrif-medikasie om sy geestesgesondheid onder bedwang te hou. Sy het verder genoem dat hy nie altyd by sy voorgeskrewe hoeveelhede hou nie.
Charmaine het vir haar seun in die polisieselle gaan kuier.
“Hy kan nie onthou wat daardie aand gebeur het nie, maar hy ís jammer, baie jammer.”
“Ek sal nie my kind verlaat nie, ek is lief vir hom, baie lief,” het Charmaine Streeknuus meegedeel.
“My kind het hulp nodig, hy hoort nie in ’n tronk nie.”

Stewart het op Dinsdag, 22 Februarie, weer vlugtig in die hof verskyn, maar die saak is tot Donderdag, 24 Februarie, uitgestel.
Charmaine, met ’n duidelike wond en steke onder die oor, sowel as ’n erg-verbinde hand was by die hof teenwoordig.
Daar het sy geduldig gewag om te hoor wat met haar seun sou gebeur.
Sy het aan Streeknuus gesê dat haar hand, volgens die dokters, geen permanente skade opgedoen het nie.
Op ’n vraag aan Charmaine wat die aanval voorafgegaan het, was haar antwoord: “Ons het ’n klein onderonsie daardie aand gehad.”
“Dit kon erger gewees het, baie erger, ek weet dit. Die wêreld moet egter weet, ek het ’n goeie kind.
“My kind is nie ’n moordenaar nie.”



