CrimeNewsStreeknuus

Plaaswerker in Delmas-omgewing vir dood agtergelaat, stoetbeeste geslag en vermink

’n Stoeiery het plaasgevind waartydens een van die werkers in die elmboog geskiet, met ’n mes gesteek en herhaaldelik met ’n panga oor die kop gekap is.

’n Plaaswerker is met ’n mes gesteek, sy kop is met ’n panga oopgekap, en hy is boonop deur die elmboog geskiet.

Volgens Jan van Heerden van Open Range Beefmasters, het die voorval omstreeks 20:00 op Donderdag, 10 Februarie op een van sy huurplase, Enkeldebosch in die Delmas-distrik plaasgevind.

Vyf onbekende mans het na bewering dié aand die plaas binnegedring.

Drie plaaswerkers was ten tye van die voorval in ’n stoor op die plaas.

Een van die werkers het na buite gegaan om die toilet te gebruik toe hy oorrompel en weer na binne gedwing is.

’n Stoeiery het glo hierna plaasgevind waartydens Montsuoe Ramaokane (40) in die elmboog geskiet, met ’n mes gesteek en herhaaldelik met ’n panga oor die kop gekap is.

Hy het maar vier dae vir Van Heerden gewerk toe hy aangeval is.

Al drie die werkers se selfone is ook afgeneem.

Plaasaanvallers het Montsuoe Ramaokane (40), ’n plaaswerker, se kop met ’n panga oopgekloof, hom met ’n mes gesteek en deur die elmboog geskiet. (Foto: Verskaf)

“My een werker was deur die sinkdeur van die stoor geskiet. Hierna was al drie vasgebind en na buite geneem,” het Van Heerden gesê.

Buite was daar glo twee van die boosdoeners wat by die werkers wag gehou het.

Tydens die aanval is nege van Van Heerden se verse geslag, die vleis verwyder en slegs die binnegoed agtergelaat.

Veertien ander se hakskene is afgekap.

Vroeg die volgende oggend kon die werkers daarin slaag om hulself te bevry en het hulle na ’n naburige plaas gegaan waar hulle om hulp gevra het.

Van Heerden het die oproep ontvang en van toe af het die éintlike nagmerrie, volgens hom, begin.

Montsuoe Ramaokane, ’n plaaswerker, is verskeie kere met dié mes gesteek. (Foto: Verskaf)

Dit het vir ewig geneem om die polisie op die toneel te kry en nóg langer om ’n ambulans daar te kry.

“Ek het later opgegee om Delmas se ambulansdienste op die toneel te kry.

“Omdat die plaas op die grens van Mpumalanga en Gauteng is, het ek toe probeer om ’n ambulans vanaf Devon te ontbied.

“Dié het my meegedeel dat dit sowat 800m buite hulle gebied val en hulle daarom nie kan help om my erg-beseerde werker na ’n hospitaal te neem nie.

“Bid jou dit aan, dat 800m nou die rede kan wees om nie ’n mens se lewe te probeer red nie.”

Ten einde laaste het daar glo ’n ambulans uit Delmas opgedaag en kon die ernstig bes

Montsuoe Ramaokane, ’n plaaswerker, se kop is wreed met ’n panga oopgekap. (Foto:Verskaf)

eerde Ramaokane na die Verre Oosrand Hospitaal in Springs vervoer word.

Van Heerden het glo ook baie lank vir polisie-reaksie gewag.

“Ek was later genoop om van die topstruktuur in die Mpumalanga Polisie te kontak waarna dinge baie vinnig verander het.”

“Teen die middag van Vrydag, 11 Februarie het die toneel van polisie gewemel. Hulle was daar van oral met verskeie range en vanuit alle oorde,” het Van Heerden verder gesê.

Van Heerden het Streeknuus op Donderdag, 17 Februarie meegedeel dat Ramaokane steeds op ’n operasie om die koeël te verwyder, gewag het.

“Die diens by staatshospitale is absoluut pateties.”

Teen Maandag, 21 Februarie kon Van Heerden bevestig dat die werker se operasie wel vir Dinsdag, 22 Februarie, 12 dae nadat hy geskiet is, geskeduleer was.

Van Heerden het Streeknuus ook meegedeel dat daar boonop in Desember verlede jaar ook nege van sy stoetbeeste geslag is.

Dié voorval het op ’n ander plaas op die R42 naby Delmas plaasgevind.

Van Heerden woon op Heidelberg en het genoem dat hy beeste op verskeie plase het.

Die panga waarmee Montsuoe Ramaokane, ’n plaaswerker, se kop oopgekap is. (Foto; Verskaf)

“Hierdie voorvalle berokken die stoetery baie skade, maar is ook uiters wreed teenoor die diere, om nie eens te praat oor die wreedheid waartydens my werker vir dood agtergelaat is nie.”

Volgens die polisie, was alle rolspelers op die toneel en duur die ondersoek van poging tot moord op die plaaswerker, sowel as dié van veediefstal, voort.

Teen druktyd was niemand nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

’n Vers waarvan die hakskeen gekap en net so gelaat is. (Foto: Verskaf)

Related Articles

Back to top button