Wat 22 jaar terug vir Jan Wahl as ’n stokperdjie begin het, is vandag sy voltydse werk.
Wahl het ná skool by vriende op ’n plaas gewerk en in dié tyd by iemand wat grofsmid-werk gedoen het, geleer hoe om messe te maak.
Hy het later die plaas vir die dorp verruil en vir ’n rukkie saam met ’n goudsmid gewerk en geleer hoe om juwele te maak.
Dit was egter die proses om messe te maak waarin Wahl meer belanggestel het, maar hy het dit toe nog nie voltyds beoefen nie omdat sy ouers wou hê hy moes gaan studeer.
Hy het aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie in Pretoria gaan studeer om ’n mediese ortotis prostetikus te word en vir ’n paar jaar in dié rigting gewerk in Pretoria.
Wahl het egter in 2009 besluit om terug te keer na Secunda waar hy grootgeword het en die groot stap geneem om voltyds messe te maak.
Dié is ’n gespesialiseerde besigheid wat baie fyn werk, tyd en aandag verg.
Wahl maak ook die hefbome van die messe self en hy kan ook graveerwerk op die hefbome doen.
Hy was vir drie agtereenvolgende jare, vanaf 2016 tot 2018 na Atlanta in Amerika waar hy sy messe by een van die grootste skoue vir messe gaan uitstal het.
Dié skou is so groot dat as mense oor drie dae heeldag daar gaan rondloop, hulle net drie minute by elke uitstaller sal kan bestee as hulle deur die hele skou wil loop.
Voor die Covid-19-pandemie het hy baie kliënte vanoor die wêreld gehad wat by hom messe bestel het, maar sedert die pandemie is dit nie meer so maklik om messe vanaf Suid-Afrika na ander lande uit te voer nie.
By van die skoue het hy al toekennings vir sy messewerk gekry vir onder andere die beste werkende vaste lem (working fixed blade) en die beste kuns vaste lem (best art fixed blade).
Hy het ook al by die Brooklyn Messeskou ’n sertifikaat vir uitnemendheid verwerf en hy is al seder 2012 ’n lid by die gilde vir mesmakers.
Dit neem hom so drie tot vier dae om ’n mes te maak, afhangende van hoe die mes moet lyk en hoeveel kunswerk op die mes gedoen moet word.
Wahl kan van ’n duur ontwerpersmes, tot meer eenvoudige jagmesse, asook knipmesse, maak.
Hy maak ook self die leersakkies (skedes) waarin ’n mens die messe kan bêre.
Wahl kan ook kombuismesse en skêrre vir mense skerpmaak.
Hy hou daarvan om met sy hande te werk en in sy vrye tyd bou hy self radio-beheerde karretjies op en gaan ry met hulle in die veld of hy bestee tyd saam met sy twee kinders.
Hy was ’n lid by Secunda se destydse boogskietklub en het al verskeie medaljes ingepalm vir boogskiet.
Wahl gaan jag graag as hy die kans kry en is ’n buitelugmens.




