Bethal VLU-vroue leer meer oor kunsterapie
Belangstellendes is welkom om volgende vergadering by te woon.
Lede van die Bethal VLU-tak het op Dinsdag, 15 Maart vergader en Heleen Walker van die Canvas-klub in Witbank, het dié VLU-tak besoek en oor kunsterapie gepraat.
Walker wat in die Christelike bediening is en ’n lewensafrigter is, het vir die lede gewys hoe om ’n kliphuisie te bou.
Lynette Posthumus, skakelbeampte van die Bethal VLU-tak, het gesê Walker wou, met die bou van die huisie, daarop klem lê dat ’n mens se fondasie op die rots van Christus, gebou moet word sodat dit nie inmekaar kan tuimel nie omdat die fondasie sterk is.
Canvas-klub bied terapiesessies vir almal aan, mans, vroue, kinders en ouer mense.
“’n Mens hoef nie ’n gesoute, kreatiewe kunstenaar te wees nie, Canvas-klub is die ideale terapie,” het Posthumus gesê.
“Selfs iemand wat nog nooit kuns gedoen het nie sal suksesvol wees.”
Walker het vertel dat vandag se jongmense onder geweldige druk is en dat dié vorm van kreatiewe kuns, hulle laat ontspan en hul brein stimuleer.
“Kunsterapie verlig depressie, verbeter kommunikasievaardighede asook probleem-oplosvaardighede, dit bou ’n goeie selfbeeld, lei aandag af en verlig simptome van geestesgesondheidskwessies,” het Walker gesê.
Sy meen dié kunssessies, sal ’n mens met nuwe oë na die wêreld en probleme laat kyk en totale ontvlugting bied.
Die Bethal VLU-tak se volgende vergadering is op Dinsdag, 12 April in die Bethal-Oosgemeente se saal en belangstellendes is welkom om dié vergadering by te woon.
Vir meer inligting, skakel Posthumus by 072 203 6230.




