Delmas se Valke Buurtwag vier hul 12de bestaansjaar
As ’n AfriForum Buurtwag en danksy AfriForum-lede bydraes en borge vanuit die gemeenskap kon verskeie projekte, soos die vul van slaggate, verf- en skoonmaak projekte asook die aanbring van ’n elektriese heining by die Malita Aftreeoord suksesvol afgehandel word.
Gestig in 2010 en na 12 jaar is die Valke Buurtwag steeds werksaam in die bekamping van misdaad in die plaaslike gemeenskap.
Lede, hooggeplaastes en gaste het op Saterdag, 19 Maart tydens ’n spog geleentheid hul verjaarsdag by die Delmas Gholfklub gevier.
Sowat 80 gaste het ’n aand vol plesier, goeie musiek en gesellige saamwees geniet.
“Ons kon, weens Covid-regulasies, nie in 2020 ons 10de verjaarsdag vier nie. Ook 2021 was ons 11de verjaarsdag ons nie beskore nie. Vanjaar was dus dié jaar en kon ons die buurtwag se 12de bestaansjaar vier en ook eer gee aan ons uitblinkers en lede wat uitsonderlike diens lewer,” het Carel Botha, voorsitter van die Valke Buurtwag, gesê.
Tydens die verrigtinge het kapt. Flip Koen, bevelvoerder van die misdaad-inligting en analise-sentrum van die Delmas Polisie, die Valke bedank vir hul diens in die gemeenskap oor die afgelope jare. “

Sedert die Valke Buurtwag in 2010 tot stand gekom het, is daar ’n drastiese afname in huisbrake, veral in ons woongebiede,” het kapt. Koen gesê.
Lede wat toekennings ontvang het vir uitsonderlike diens gelewer tussen 2020 en 2022, is die Nuwe Valk van die Jaar, Hennie Rheeder, Raymond Swanepoel vir Veelsydigheid, Cameron McAdam vir kamera-ondersteuning, Jaun Herholdt vir veiligheidsondersteuning, en die Valke Nes van die Jaar-trofee is aan die Biermann-gesin toegeken.
Ook Perfect Water in Delmas is spesiaal bedank vir hul volgehoue ondersteuning en onbaatsugtige bystand in die gemeenskap.
Helena Biermann is as die Valk van die Jaar onder die vroue aangewys en Grewar Biermann en Gerhard van Niekerk deel die trofee vir die Valk van die Jaar onder die mans.
Verskeie lede het ook erkenning gekry vir goeie diens gelewer met noodbystand, gereelde patrollies en radiotoets.
“Ek wens dat ons vir elke aktiewe lid ’n sertifikaat van erkenning kan gee. Hoe klein of groot ’n lid se bydrae ook al is, dit vorm ’n skakel in die ketting van die bystand in die bekamping van misdaad. Ons waardeer elkeen se insette opreg. Ons is nie daar om die funksie van die Polisie oor te neem nie, maar is hulle ore en oë op grondvlak,” het Botha verder gesê.

Spesiale dank is ook teenoor die polisie van Delmas en Sundra, die Sundra Bulldogs en Eloff Buurtwag uitgespreek vir goeie buurmanskap en samewerking.
Die aand kon egter nie verbygaan sonder om vir Botha wat die buurtwag gestig het, te bedank nie.
Botha het ’n trofee vir 12 jaar se lojaliteit vanaf die Valke ontvang.
Volgens Botha, het hy en ’n buurman, Harry Saunders, op ’n dag besluit om effektiewe, vinnige en goedkoop kommunikasie tussen die twee van hulle te bewerkstellig.
Tweerigting radio’s was die antwoord. Kort voor lank het nog ’n paar lede vanuit uitbreiding 2 op Delmas by hulle aangesluit.
Die konsep het gegroei en daar moes planne beraam word om die res van die gemeenskap te kan bereik om vinnige reaksie tydens ’n noodgeval te bewerkstellig.

Sakelui en weldoeners vanuit die gemeenskap het geld geskenk en ’n eerste herhaler is op die dorp opgerig.
Sedertdien het die Valke van krag tot krag gegroei, baie suksesse gehad en dien steeds die gemeenskap met die uitsluitlike doel om die polisie by te staan in die bekamping van misdaad.
Intussen het die Valke verskeie kameras, herhalers en veiligheidstrukture in plek gebring.
As ’n AfriForum Buurtwag en danksy AfriForum-lede se bydraes en borge vanuit die gemeenskap, kon verskeie projekte, soos die vul van slaggate, verf- en skoonmaak projekte asook die aanbring van ’n elektriese heining by die Malita Aftreeoord suksesvol afgehandel word.
“Ons kan ook nie anders as om die groep Delmas Herleef, onder leiding van dr. Martin van Rensburg, vir hulle bydrae tot die opknapping van ons dorp te bedank nie.”
“Ek bedank elkeen van ons borge en ondersteuners wat die aand vir ons moontlik gemaak het. Dankie ook aan Delmas Gholfklub vir puik reëlings, ’n heerlike ete en die gebruik van die klubhuis. Spesiale dank ook aan Nico Prinsloo vir die vermaak met goeie musiek en sang,” het Botha verder gesê.
“Saam maak ons ’n verskil in ons gemeenskap.”




