Standerton se middedorp gaan agteruit teen snelle pas
Volgens die werkers, is dit ook ’n broeiplek vir kriminele aktiwiteite omdat mense beroof word.
Die toestand van die parkeergebied voor ’n kettingwinkel en slaghuis steek menige inwoner dwars in die krop.
Dit het op Dinsdag 22 Maart omstreeks 10:00 redelik goed gelyk, hoewel in ag geneem moet word dat werknemers van die slaghuis vroegoggend skoonmaak.
Daarbenewens spuit hulle gif op die plaveisel om onkruidbeheer toe te pas, en verf die parkeerstrepe.
Volgens die werkers, is dit ook ’n broeiplek vir kriminele aktiwiteite omdat mense beroof word.
Bedelaars, haweloses en skelms slaap teen die heining en skroom nie om daar te urineer nie.
Die impak op die onderneming spreek vanself.
Net om die draai in Charl Cilliersstraat, tussen Princess- en Mbonani Mayiselastraat, stop afleweringsvoertuie dwars in die pad oor die sypaadjie, om goedere af te laai langs ’n vullishouer, wat oorlopens toe vol is.
Entrepreneurs smous tussendeur hul ware op elke beskikbare hoekie en gaatjie.
Kasselman Veiligheidsdienste het al in die verlede inwoners gewaarsku om in dié blok waaksaam te wees.
“As die Lekwa Munisipaliteit nie hul verordeninge in plek kry nie, gaan dit ’n groter kopseer word,” het Jandré Kasselman gesê.
”Die polisie en Lekwa moet saamwerk om die probleem op te los.”
Die Standerton Advertiser het op 22 Maart ’n WhatsApp-navraag na die kommunikasiebestuurder van Lekwa, Thobeka Mtshiselwa, gestuur oor die stand van verordeninge vir Standerton.
Lesers sal op hoogte van sake gehou word.





