Local newsNews

Fabian Allie van Standerton se lewe verander handomkeer

Wat die inkeer merkwaardig maak, is dat hy sonder hulp van enige aard, soos ’n rehabilitasiesentrum, dit reggekry het.

Fabian Allie, ’n Kapenaar al die pad van Belhar, het ’n holte vir sy voet by die krisissentrum van die SAVF gevind.

Hy is sedert 1 April verlede jaar die bestuurder by dié sentrum in Schwickardstraat.

Die vorige bestuurder se kat, Steven, en hy is nou onafskeidbaar.

Die gesin het destyds toe hy vyf jaar oud was, na Standerton verhuis en Fabian was ’n leerder by Azalea Combined School.

Hulle het ook vir ’n tydperk op Sasolburg gebly, waar hy by ’n kollege ingeskryf het om sy ambag as elektrisiën te voltooi.

Sasol op Secunda was waar hy vir vier jaar as vakleerling gewerk het voordat hy teruggetrek het na Standerton.

Dië besluit is geneem omdat hy vriende op die dorp gehad het en net daar en dan, sou dinge sleg begin skeefloop.

“Ek het met die verkeerde vriende deurmekaar geraak en begin om dwelms te gebruik,” het Fabian vertel.

Hy was vir sowat agt jaar van Cat en tik afhanklik en ’n ommekeer het gevolg.

Deels vanweë sy streng, Christelike opvoeding en deels vanweë sy individualiteit, kon hy daarin slaag om sy kompas weer op koers te kry.

“Ek is nou reeds vir twee jaar skoon,” het Fabian gesê.

Wat die inkeer merkwaardig maak, is dat hy sonder hulp van enige aard, soos ’n rehabilitasiesentrum, dit reggekry het.

“My pa het my geleer dat by ’n kind van God alles moontlik is.”

Albei sy ouers is oorlede en hy het net ’n jonger broer, Huyan.

Fabian het by die SAVF ’n druk program om toe te sien dat alles by die sentrum seepglad verloop.

“Ek ontmoet nuwe mense en dit is veral die kindertjies wat my hart steel.”

Hy het sonder om in te veel besonderhede in te gaan, vertel van die verhale wat hy aanhoor, van mense wat geen ander heenkome het nie.

Fabian is egter prakties aangelê.

“Ek wil help, maar mense moet ook hulself wil help.”

Hy sal bitter graag sy ambag wil voltooi en as hy van verlof terugkeer, beplan hy om die kursusse by Gert Sibande Kollege na te gaan.

Moontlik wink die gasvryheidsbedyf.

Op die musiekfront, praat hip-hop en rap met dié enkellopende man.

Geen vereistes wat nie naastenby nagekom kan word nie, word vir ’n vrou gestel nie.

“Ek wil net ’n Godvresende vrou hê,” is mee afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button