Rowers slaan toe op nóg ’n hoewe in Delmas-distrik
Dié aanval kom slégs een week ná Gustav Rappard (76) op sy plaas net buite Delmas vermoor is en sy vrou, Elma vasgebind was.
’n Half dosyn pekinees-hondjies het verbouereerd op die kleinhoewe rondgehol.
Een het bang en bewend in die slaapkamer weggekruip. By die glasdeur was die tekens duidelik, daar het ’n bejaarde man op ’n stoel gesit, aangerand en bebloed.
Elektriese koorde het nog ligweg om sy voete gehang.
Dit is Braam Pretorius (61) van Sundra, die nuutste slagoffer van ’n plaasaanval in die Delmas-omgewing.

Dié eienaar van ’n kleinhoewe in Sundra is geskop, aangerand, beroof en bebloed op die vloer agtergelaat.
Dié aanval kom slegs ’n week ná Gustav Rappard (76) op sy plaas net buite Delmas vermoor is en sy vrou, Elma vasgebind is.
Braam Pretorius (61) is op Sondag, 27 Maart op sy kleinhoewe aangeval en beroof.

Volgens Braam het hy omstreeks 21:20 by die huis aangekom. Hier is hy deur rowers ingewag, oorval en die huis binnegedwing.
Braam se vrou, Zaan Pretorius (61), het kort op sy hakke gevolg en net na 22:00 by die huis aangekom.
“Ek druk gewoonlik die toeter wanneer ek by die huis aankom, want die hondjies hardloop onder die motor in,” het Zaan gesê.
“Sondagaand was iets egter baie vreemd. Ek het deur die glasskuifdeur gesien dat Braam op die vloer lê.
“Ek het eers gedink dat hy moontlik kon geval het.”
Volgens Zaan het Braam vir haar geskreeu om te ‘reverse’ en so vinnig as moontlik pad te gee.
“Hulle gaan jou doodmaak, hulle gaan jou skiet.”
Zaan het gesê sy het ’n vreeslike keel opgesit en om hulp geroep en het ook kennisse gebel om hulp te vra.
Die Sundra Bulldogs Buurtwag is per tweerigtingradio gekontak en het onmiddellik reageer.

Dié gebeure is egter voorafgegaan met die wrede aanranding op Braam.
Volgens Braam is ’n oorgehaalde 9mm-pistool teen sy kop gedruk. Hy is gedwing om die kluis se sleutel aan die aanvallers te oorhandig.
Braam is nie gesond nie. Hy kry elke tweede dag vir vyf ure lank dialise.
Hy is dus meestal te swak om homself te verdedig en het verder geworstel met die wete dat sy vrou enige oomblik by die huis sou aankom.
“Ek het aan hulle (die aanvallers) probeer verduidelik dat ek baie siek is en gereeld dialise ontvang,” het hy vertel.
Braam is egter in krutaal geantwoord in wat daarop neerkom dat hulle nie vir hom omgee nie.

Hy was te swak om homself teen die aanvallers te verset en is met elektriese koord van elektriese toebehore vasgebind.
Tydens die worsteling, is Braam in die gesig en teen die kop geskop. Bloed het uit die wond teen sy kop gestroom omdat hy boonop ’n bloeier is.
In die proses is Braam van sy vuurwapen, selfoon, horlosie en ander besittings beroof.
Die Pretoriusse se slaapkamer is geplunder en die aanvallers was duidelik opsoek na meer waardevolle items.
Intussen is die egpaar se werker en dié se vrou ook in hul wooneenheid op die kleinhoewe oorrompel, vasgebind en aangehou.
Hulle het nie beserings opgedoen nie, maar is van hul selfone en televisie beroof.

Braam is aanvanklik op die toneel deur die Sundra Bulldogs se mediese span bygestaan en versorg terwyl daar vir ER24 se ambulansdienste gewag is.
Met ER24-nooddienste se aankoms, is Braam verder gestabiliseer en na die N17 Hospitaal in Springs vervoer.
Die Pretorius-egpaar woon sowat 20 jaar reeds op die kleinhoewe.
Zaan is ook bekend as die eienaar van die Bison Saloon / Pub aan die N12.
Lede van die Sundra Bulldogs het verbete probeer om die aanvallers se spoor op te tel, maar dit was haas onmoontlik weens digte mis.

“Ons is net dankbaar dat ons met ons lewens daarvan afgekom het.
“Ek wil vir almal wat ons bygestaan en gehelp het, baie dankie sê. Spesifiek vir Derek Bester en sy span van die Bulldogs Buurtwag. Ons waardeer al julle hulp, bystand en omgee.”
Braam was op Maandag, 28 Maart weer tuis, maar het weens die kneusing baie seer gehad. Hy moes ook dieselfde dag weer vir dialise gaan.
Zaan was baie kalm met Streeknuus se aankoms op die toneel, maar die volgende dag het ’n hoorbare moeë en emosionele Zaan haar selfoon beantwoord.
“Ek wás kalm ja en ek was kwaad, baie kwaad, maar het geknak die oomblik toe ek met my ma gepraat het.
“Die werklikheid is dat dit soveel erger kon gewees het, een of albei van ons kon dood gewees het.”




