Kaalvoetrugby weer op sy beste by Laerskool Delmas
Sowat 1 000 spelers en 110 afrigters het op die veld uitgedraf.
Laerskool Delmas is oraloor bekend vir sy laerskool-rugbyweek wat jaarliks aangebied word.
Te midde die Covid-pandemie kon dit vir die afgelope twee jaar nie plaasvind nie.
Die kaalvoet-rugbyweek op Laerskool Delmas se sportvelde het vanjaar egter weer op Vrydag, 18 Maart afgeskop en op Saterdag, 26 Maart ten einde geloop.
Dit was vanjaar reeds die 12de aanbieding van dié rugbyweek.
Laerskool Delmas het tydens die week drie toernooie volgens ouderdomsgroepe, sowel as vir eerste- en tweedespanne aangebied. Daar het nege verskillende skole en sowat 14 spanne deelgeneem.
“Sowat 1 000 spelers en 110 afrigters het op die veld uitgedraf,” het die organiseerder, Jacques de Beer, laat weet.
Volgens Jacques, fokus hulle gedurende hierdie rugbyweke nie noodwendig op wen nie, maar op die ontwikkeling van die sport.
“Namens die beheerliggaam, personeel, ouers en leerders van Laerskool Delmas, wil ons vir die Laerskool Delmas Rugbyweekkommittee baie dankie sê vir puik reëlings rondom die rugbyweek.
“Baie dankie ook aan ons gemeenskap en besighede wat die week geborg het,” het Jacques gesê.
“Sonder julle hulp sou hierdie week nooit moontlik gewees het nie. Ons glo en vertrou dat Laerskool Delmas se rugbyweek van krag tot krag sal gaan.”
Daar was ook in besonder dank uitgespreek teenoor Hoërskool Delmas vir die gebruik van hul koshuis waar die deelnemers tydens die toernooie gehuisves is.
Die skoolhoof, Johan de Beer, het vir Jacques en sy span hartlik bedank vir die passie waarmee hulle die week gereël het.
“Na die epidemie was daar was ’n honger by die spelers, afrigters en toeskouers om weer deel te wees van so ’n rugby-geleentheid,” het hy gesê.
Elke speler wat deelgeneem het, het ’n sertifikaat ontvang en die trofee-wenners is as volg:
Trofee-wenners vir 0/9- en 0/10-spanne vanaf 18 tot 19 Maart:
Beste Gedrag: Laerskool Kanonkop van Middelburg.
Beste Vordering: Laerskool Kanonkop 0/9.
Aanskoulikste Rugby : 0/9 en 0/11 Laerskool Northmead van Benoni.
Trofee-wenners vir 0/11- en 0/13-spanne vanaf 21 tot 23 Maart:
Beste Gedrag: Laerskool Kanonkop.
Beste Vordering: Laerskool Selectionpark van Springs se 0/13-span.
Aanskoulikste Rugby: 0/11 en 0/13 – Laerskool HM Swart van Bethal.
Trofee-wenners vir 0/11- en 0/13-spanne vanaf 24 tot 26 Maart:
Beste Gedrag: Laerskool Delmas 0/13.
Beste Vordering: Laerskool Marietjie van Niekerk van Bethal.
Aanskoulikste Rugby: 0/11 Laerskool Reitz en 0/13 Laerskool P.A.M Brink van Springs.
Die trofee vir die karakter van die week is aan ’n onderwyser van Laerskool Reitz toegeken.









