Local newsNews

Sesjarige van Secunda kry breinoperasie

Rohan se terapeut vermoed hy het tans korttermyn geheue-probleme weens die trauma wat sy liggaam opgedoen het.

 Rohan Bos (6) ’n leerder van Laerskool Kruinpark, het in die laaste paar weke meer tyd in die hospitaal as by die huis bestee.

Sy ma, Mary-Ann Bos, het hom in November na die pediater geneem nadat hy verskeie kere van hoofpyn gekla het.

“Ek het gedink hy sukkel met sinus,” het Mary-Ann vertel.

By die pediater het hulle egter, ná ’n MRI-skandering, agtergekom Rohan het ’n gewas van 3cm in deursnee en 2cm dik, in die sentrale deel van sy brein.

Hy is na ’n dokter in Johannesburg verwys wat gesê het dit is nie nodig om die gewas te verwyder nie, maar Mary-Ann het Rohan toe na ’n ander dokter geneem om ’n tweede opinie te kry.

Dié dokter het gesê hulle moet so vinnig as moontlik opereer en hy het selfs hulp van ’n dokter in Australië ingeroep wat na Suid-Afrika gereis het om met die operasie te help.

Rohan is op 27 Januarie geopereer en was onder sedasie geplaas terwyl hy in die intensiewe sorg-eenheid van die hospitaal was.

In dié tyd het sy brein geswel wat veroorsaak het dat hy aanvalle gekry het terwyl hy onder sedasie was.

“Rohan was vir vier en ’n half uur in teater toe hulle die gewas verwyder het en bepaal het dat dit ’n eerste graadse gewas is wat in sy brein was,” het Mary-Ann vertel.

Rohan se pituïtêre klier in sy brein het tydens die operasie seergekry, asook ander dele van sy brein wat sy temperatuur reguleer en sy eetgewoontes bepaal.

Sy skildklier en byniere asook sy groeihormone werk nie, maar hy kry tans behandeling daarvoor.

“Hy weet nou nie wanneer hy honger is nie en sy sodium-vlakke is ook verkeerd.”

Mary-Ann het, terwyl Rohan nog in die hospitaal was op 6 Februarie, agtergekom sy een oog se pupil is groter as die ander een en hy het net voor hom uitgestaar en nie reageer nie.

Sy linkerlong het oak in dié tyd gedeeltelik plat geval.

Hy is egter op 19 Februarie uiteindelik uit die hospitaal ontslaan, maar hy was net twee weke by die huis, toe hy ’n terugslag beleef het.

“Ek het die oggend, toe ons opgestaan het, gesien Rohan val rond en kan nie reguit loop nie en hom na ongevalle by Mediclinic Highveld geneem,” het Mary-Ann vertel.

Hy is op 12 Maart Mediclinic Highveld toe, maar is later na die Garden City Hospitaal in Johannesburg oorgeplaas en daar is bevind dat Rohan se liggaam nie kan reguleer hoeveel water hy afskei nie.

Dokters het toe agtergekom dat sy brein gekrimp het en dit het bloeding op die brein versoorsaak.

Hulle vermoed ook dat hy al vir twee jaar die gewas gehad het.

Rohan gaan permanent op groeihormoonpille wees as hy weer uit die hospitaal ontslaan word en hy kry tans fisioterapie, spraakterapie en arbeidsterapie.

Hy sal nou in die nag doeke moet dra.

Rohan Bos by sy ma, Mary-Ann Bos. (Foto: Verskaf)

Vóór die operasie was Rohan een van die vinnigste kinders in sy ouderdomsgroep en het tydens die uitdunne vir 60m en 80m eerste gekom.

Hy was ook een van die top vyf akademiese presteerders in sy klas in 2021.

Rohan se terapeut vermoed hy het tans korttermyn geheue-probleme weens die trauma wat sy liggaam opgedoen het.

Mary-Ann werk voltyds op ’n myn buite Secunda en Rohan is op haar mediese fonds, maar die mediese fonds dek nie al die bybetalings nie.

Die kostes van die bybetalings beloop tans R132 112 en dan skuld Mary-Ann nog die eienaar van die gastehuis waar sy tuisgegaan het ook geld.

“Die eienaar het my baie gehelp en gesê ek hoef eers te betaal wanneer ek kan.”

Verskeie vriende van Mary-Ann is in die proses on geldinsamelingsgeleenthede te reël om te help om die mediese onkostes, asook brandstof en verblyf, te dek.

Vriende het ook reeds sowat R8 000 op Tik Tok vir Rohan ingesamel.

Belangstellendes wat Rohan wil help, kan ’n bydrae lewer en die volgende bankrekening gebruik:

Capitec Bank, rekeningnaam – R Bos, spaarrekening, rekeningnommer – 191 575 7612, takkode – 470 010.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button