Vermeende moordenaar van Bethal-egpaar se saak skuif na Delmas
Bethal-juwelier bly in aanhouding gedurende moordsaak.
Francois Pretorius, die juwelier wat teregstaan op die dubbelmoord op dr. Hannes Beukes en sy vrou Ibel op 18 Maart 2020, het onlangs in die hooggeregshof op Middelburg verskyn.
Sy saak is uitgestel en hy sal later vanjaar in die hooggeregshof op Delmas verskyn.
Pretorius word daarvan beskuldig dat hy die egpaar in ’n plaashuis wat hy buite Bethal gehuur het, vermoor het.
Die egpaar se lyke is later in die bagasieruim van hul motor in ’n veld naby Bethaldam gevind nadat ’n motorfietsryer die verlate motor gesien het en onraad vermoed het.
Pretorius het gevlug na sy skoonpa se plaas buite Belfast en was vir ’n paar dae voortvlugtend totdat die polisie hom op die plaas in hegternis geneem het.
Pretorius is in aanhouding sedert hy in hegtenis geneem is.
Sy prokureur het tydens een van sy eerste verskynings in die hof op Bethal aangevoer dat Pretorius aan ’n oorerflike siekte ly wat die bloedtoevoer na die brein beïnvloed en hoofpyne en aanvalle veroorsaak wat kan ontaard in demensie.
Sy prokureur het gesê Pretorius is nie toerekeningsvatbaar vir sy dade nie, maar na doktersondersoeke is bevind dat hy wel toerekeningsvatbaar is.




