CrimeNewsStreeknuus

Gewonde vrou ry na Cullinan-gholfklub vir hulp

Weens die erns van die vrou se toestand is daar besluit om haar per helikopter te vervoer.

’n Onbekende vrou wat twee keer deur vermeende kapers geskiet is, het self tot by die Cullinan-gholflandgoed bestuur om hulp te soek.

Min inligting is tans bekend oor die presiese omstandighede waarin ’n vrou se motor, ’n Toyota Fortuner omstreeks 20:10 op Saterdag, 3 April van agter gestamp is.

Daar word vermoed dat dit ’n kapingspoging was.

Volgens Johann van der Linde, hoof van reaksie vir die Cullinan/Rayton-gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het die voorval op die R515, in die omgewing van die koöperasie net voor Fourways plaasgevind.

Die slagoffer het glo uitgeklim om die skade aan haar voertuig te bepaal toe sy geskiet is.

Sy is deur twee koeëls getref, een in die nek en die ander in die maag.

Die vrou het op onverklaarbare wyse ook haar regterarm tydens die voorval gebreek.

Die ernstig gewonde slagoffer het tot by die Cullinan-gholflandgoed, sowat 1km vanwaar sy geskiet is, gery om hulp te vra.

Volgens Emer-G-Med het hul mediese noodspan omstreeks 21:00 op die toneel aangekom.

Weens die erns van die vrou se toestand is daar besluit om haar per helikopter te vervoer.

’n Netcare 911-helikopter het op die dorp se rugbyveld geland vanwaar die vrou na die Milpark Hospitaal vervoer is.

Die vrou moes, na wat verneem word, dieselfde nag nog ’n noodoperasie ondergaan.

Teen druktyd was sy steeds in die intensiewe sorgeenheid, maar stabiel en sou sy op Maandag, 4 April ’n verdere operasie ondergaan in ’n poging om haar ingewande te herstel.

Die 57-jarige slagoffer was volgens inligting vanaf ’n veearts in Rayton op pad terug huis toe, toe sy aangeval is.

Sy woon slegs twee weke in die omgewing.

Haar seun was ook by die gholflandgoed toe sy ma in die helikopter gelaai is. Hy het bevestig dat ’n hangertjie en sy ma se selfoon vermis word.

“Ons het die selfoon gelui, dit was steeds aan. Die selfoon is gevind waar die voorval plaasgevind het. Daarvolgens kon ons bepaal het presies waar die vrou geskiet is,” het Van der Linde gesê.

“Dit is baie tragies, want die vrou se man is sowat agt maande gelede oorlede, en nou dít.”

Die polisie kon nog nie die slagoffer se verklaring afneem nie weens haar mediese toestand.

Die Cullinan Polisie het wel bevestig dat daar ’n saak van poging tot moord geopen is en die gebeure ondersoek word.

Van der Linde het almal wat bystand gelewer het, bedank.

Lees meer in ’n volgende uitgawe van Streeknuus.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button