CrimeNewsStreeknuus

N12 Putfontein-paartjie se moordenaars moet lewenslank sit

Die vonnis volg byna drie jaar ná Kuhn en Fleischman se lewelose liggame op 26 Mei 2019 op die brug gevind is.

Ná die dood van twee jongmense op die Putfontein-brug oor die N12 is die twee beskuldigdes ten einde laaste gevonnis.

Malosi Gift Shima (23) en Ishmael Hlabathi (34) is op Vrydag, 1 April skuldig bevind op die moord van Jessica Kuhn (21) en Johanco Fleischman (19).

Shima en Hlathi is op Maandag, 4 April in die Benoni Streekhof gevonnis.

Landdros Ian Cox het die twee moordenaars elk twee keer lewenslank tronk toe gestuur.

Die vonnis volg byna drie jaar ná Kuhn en Fleischman se lewelose liggame op 26 Mei 2019 op die brug gevind is.

Die gebied is daarvoor bekend dat daar baie onwettige mynbedrywighede plaasvind.

Daar was eers vermoed dat die paartjie verkeerdelik aangesien was as goudstof-kopers. (Streeknuus, 31 Mei 2019 en 26 Junie 2020).

Fleischman, ’n oud-leerling van Hoërskool Delmas, Kuhn en twee werkers was op die dag van die moorde vanaf ’n varkplaas op Kendall op pad huis toe, toe hul voertuig sonder brandstof gaan staan het.

Die paartjie het ’n kennis van hul probleem laat weet.

Malosi Gift Shima en Ishmael Hlabathi tydens vonnisoplegging. (Foto: Ntombikayise Sibeko, Benoni City Times)

Terwyl hulle vir hulp gewag het, het die moordenaars die paartjie se bakkie genader.

Hier het hulle glo vir Fleischman ’n mlungu (witmens) genoem en op die paartjie begin skiet.

Die werkers het glo uit vrees van die toneel gevlug, maar het weer teruggekeer nadat die nooddienste op die toneel verskyn het.

In ’n mediaverklaring wat ten tye van die moord uitgereik is, het Russel Campbell, woordvoerder vir ER-24, gesê dat Jessica binne die bakkie met ’n enkele koeëlwond gevind is.

Fleischman se liggaam is buite die voertuig met veelvuldige skietwonde aangetref. Albei is op die toneel dood verklaar.

Dit het intussen aan die lig gekom dat Kuhn in die gesig en Fleischman agter in die kop geskiet is.

’n Ooggetuie wat vir Shima en Hlabathi op die toneel van die moord geplaas het, het uiteindelik gelei tot die twee moordenaars se skuldigbevinding.

Shima en Hlabathi is op Donderdag, 18 Junie 2020 tydens ’n intelligensie gedrewe operasie in Benoni aangekeer.

Volgens inligting is daar ’n derde verdagte, maar hy is steeds op vrye voet.

Landdros Cox het tydens vonnisoplegging gesê dat geen vonnis die seer van die families ooit ongedaan kan maak nie.

Johanna Kuhn en Marika Fleischman, die ma’s van die twee vermoorde jongmense, het elke hofverskyning bygewoon.

“Dit was absolute hel,” het Johanna gesê.

“Daar het al die besonderhede rondom ons kinders se dood uitgekom. Vóór dit was die waarheid van my weerhou,” het Marika bygevoeg.

“Dit is skokkend, die kinders was tereggestel en dit vir niks.”

Die toneel waar Jessica Kuhn en Johanco Fleischman op 26 Mei 2019 vermoor is. (Foto: Facebook)

Volgens Marika was elke hofverskyning uitmergelend, intimiderend en vreesaanjaend.

Op ’n vraag aan Marika of die twee moordenaars enigsins berou getoon het, was haar antwoord: “Nee, glad nie.”

Volgens Marika, was haar seun se bynaam ‘Bullet’.

“Hy was vyf jaar oud en het met ’n windbuks op die plaas geskiet. Hy het ’n hekpaal raakgeskiet en die patroon het teruggeslaan.

“Dit het hom tussen die oë getref. Vandaar was hy Bullet.

“Hoe ironies dat my kind aan die hand van ’n moordenaar se bullet in sy agterkop gesterf het.”

“Johanco het daarvan gedroom om eendag sy eie visvangprogram op televisie aan te bied.

“Dit sou hom dan famous maak. Raai wat, vandag is my Johanco-kind famous,” het Marika gesê.

Johanna en Marika het dit eens dat hulle tevrede met die vonnis is.

Jessica Kuhn en Johanco Fleischman. (Foto: Facebook)

“Dit bring ’n groot mate van berusting,” het albei gesê.

“Ons as gesin wil vir elkeen wat ons bygestaan het en vir ons gebid het, en selfs vir die media baie dankie sê vir hulle bystand en dekking van Jess se moord,” het Johanna laat hoor.

“Ek, my man en my seuns kan nou weer begin lewe,” het Johanna gesê.

“Alles gebeur met ’n doel. Baie mense het vir my gesê dat dit God se Wil was. Nee, dit het aan die hand van satan gebeur,” het ’n bewoë Marika afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button