Nadi Myers groet die gemeenskap van Standerton
’n Onderwyser by Witteberg Hoërskool op Bethlehem het haar destyds aangeraai om haar ondervindinge neer te pen.
Nadi Myers van Standerton is aan die oppak vir ’n verhuising na Marble Hall.
Haar betrekking in die beheerkamer by Kasselman Veiligheidsdienste het op 7 April ten einde geloop.
Sy was vir ses jaar, met die uitsondering van vier maande, een van die operateurs van die kommunikasietoerusting, wanneer alarms by kliënte se huise afgegaan het.
“’n Mens moet geduld aan die dag lê,” het Nadi gesê.
“As jy by die beheerkamer instap, moet jy jou persoonlike lewe eenkant toe skuif.
“Dan is die gemeenskap se probleme jou verantwoordelikheid.”
Die positiewe het die negatiewe oorheers as sy met vriendelike mense kon kommunikeer.
Die skryfgogga het Nadi reeds jare gelede gebyt.
’n Onderwyser by Hoërskool Witteberg op Bethlehem het haar destyds aangeraai om haar ondervindinge neer te pen.
“Ek skryf omdat ek destyds beleef het dat ek met niemand kon praat nie,” aldus Nadi.
Haar eerste roman, gebaseer op ’n ware verhaal, beslaan tans 50 bladsye en sy deel hoofstukke algaande in.
Nie dat sy nie ook haar hand aan die digkuns waag nie.
Nadi plaas haar gedigte op ’n Facebook-blad as uitlaatklep vir onder meer haar haar emosionele sy, hoewel die natuur en mense ook tot haar spreek.
Werksgewys sal sy wel ’n pos in die toekoms aanvaar, maar vir eers gaan sy op haar skryfwerk fokus.
’n Uitgewer sal ook mettertyd genader word om haar droom te verwesenlik.
“My ambisie wentel om die publikasie van ’n boek, hoewel mense altyd gesê het jy kan nie ’n lewe uit skryf maak nie,”
Op die vraag wat haar kwaad maak, het onregverdigheid en rassisme die botoon gevoer.
Nadi Myers het ter afsluiting die mense van Standerton gegroet.
“Baie dankie aan almal wat my met hul veiligheid vertrou het.”
Na oorweging, het sy wel drie mense uitgesonder wat baie vir haar beteken het en Gert en Sharon van Aswegen, sowel as Jannie Kasselman, vir hul ondersteuniung bedank.



