Delmas Polisie vind voertuie terug nog voor eienaar besef dat dit gesteel is
Die polisie vra dat enige lid van die publiek wat meer inligting het omtrent die drie verdagtes wat van die toneel gevlug het, hul moet kontak.
Delmas Polisie se flinke optrede het daartoe gelei dat twee gesteelde voertuie op die N12 teruggevind is.
Lede was vroeg Dinsdagoggend, 29 Maart met patrollie toe hulle ’n Toyota Quantum-bussie en’n Ford Bantam opgemerk het. Albei voertuie het Mpumalanga-registrasienommers gehad.
Die lede was dadelik agterdogtig, juis omdat die voertuie op die presiese plek aan die N12 gestaan het waar ’n Mosambiekse taxibestuurder tydens ’n roof op Maandag, 21 Maart, koelbloedig doodgeskiet is. (Streeknuus, 1 April).
Die polisie het dadelik gevra dat die voertuie getoets moes word om vas te stel of dit moontlik gesteel kon wees. Dit het egter negatief getoets.
Die polisie het by die toneel gestop waarna drie verdagtes die hasepad gekies het.
By die Quantum aangekom het die polisielede opgemerk dat die Quantum se paneelbord uitmekaar gehaal is. Dit is glo toe dat hulle besef het iets is drasties verkeerd.
Albei die voertuie is hierna na die Delmas Polisiestasie geneem. By verdere navrae het die polisie die eienaar opgespoor. Hy (die eienaar) was op daardie presiese oomblik by die Hendrina Polisie besig om sy voertuie as gesteel aan te meld.
Delmas se polisie het dus twee voertuie teruggevind nog voordat die eienaar daarvan bewus was dat dit gesteel is.
Die polisie vra dat enige lid van die publiek wat meer inligting het omtrent die drie verdagtes wat van die toneel gevlug het, hul moet kontak.
Speur-konst. Bongani Cele kan by 067 817 6571 geskakel word.
Die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111 kan ook geskakel word of alternatiewelik kan inligting via die MySAPSapp gestuur word.
Die polsie gee hulle versekering dat alle inligting vertroulik hanteer sal word.




