CrimeNewsStreeknuus

Delmas inwoners deur reeks ontploffings wakker geruk

’n Reeks ontploffings in die vroeë oggendure het Delmas inwoners in hul beddens laat regop sit.

Kliënte wat Woensdag gehoop het om brandstof by die vulstasie in Sarel Cillersstraat in Delmas in te gooi, moes ongeholpe by’n misdaadtoneel wegdraai.

Die winkel is deur plofstof aan flarde geruk en, weens die skade, het geeneen van die petrolpompe gewerk nie.
Ook vir die wat gehoop het om kontant by die Eerste Nasionale Bank outomatiese tellermasjien te trek, was dit nie moontlik nie. Dit was onbruikbaar beskadig.

Polisie op die misdaadtoneel.

’n Reeks ontploffings in die vroeë oggendure het Delmas se inwoners in hul beddens laat regop sit.
Die eerste ontploffing kon omstreeks 02:15 op Woensdag, 6 April gehoor word. Dit was gevolg na nog drie kort na mekaar en die laaste was glo omstreeks 02:22 .

Nuus het vinnig versprei dat die Sasol vulstasie in Sarel Cilliersstraat onder rowers deurgeloop het.

Sowat agt rowers het glo die perseel te voet vanuit die rigting van KFC binnegekom. Die petroljoggies is met vuurwapens gedreig en daarna in die werkerskwartier ingedwing waar hulle beveel is om plat te lê.

Die toneel van verwoesting nadat die 24-uur winkel deur plofstof beskadig is.

Die kassiere was nog in die 24-uur winkel waarvan die veiligheidsdeure gesluit was vir die res van die nag.

“Hulle het ons gedreig en gesê dat ons nie na hulle moet kyk nie. Ons was baie bang, want die rowers het aggressief voorgekom en was swaar gewapen, die mense skiet sommer net,” het een van die joggies, wat verkies om anoniem te bly, Streeknuus meegedeel.

Die rowers het eerstens die veiligheidsdeur oopgeblaas ten einde toegang tot die winkel te kry. Die kassiere was hierna gedwing om by haar kollegas aan te sluit.

Die volgende twee plofslae was dié van die kluis binne-in die winkel. Die geweld van die ontploffings het baie skade aan die kluis en ander toerusting in die winkel aangerig.

Die Eerste Nasionale Bank automatiese tellermasjien het hierna aan die beurt gekom. Volgens inligting het die plofstof, wat in ’n broodsakkie aan die OTM gehang was, egter nie ontsteek nie. Volgens inligting was die skade aan die OTM slegs deur die ontsteker self veroorsaak.

Die FNB outomatiese tellermasjien by die Sasol-vulstasie in Sarel Cilliersstraat, Delmas is erg beskadig..

Die rowers het hierna in ’n wit Toyota Quantum-bussie, wat op die perseel was om diesel in te gooi, gekaap. Die rowers het die bestuurder van die bussie beveel om hulle op die R555 naby Delpark af te laai.

Volgens betroubare inligting het die bestuurder glo gehoor hoedat die rowers iemand skakel en het die persoon meegedeel dat hulle klaar was en dat hulle maar gehaal kon word.

Die 24-uur winkel nadat dit deur plofstof aan flarde geruk is.

Die Delmas polisie en ander belanghebbendes was op die toneel teenwoordig.

’n Onbekende bedrag kontant is tydens die rooftog gebuit. Volgens inligting is al die werkers se selfone en beursies ook tydens die rooftog gebuit.

Teen druktyd is daar nog niemand in verband met die roof in hegtenis geneem nie.

Plofstof is in ’n broodsakkie aan die FNB outomatiese tellermasjien vasgeheg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button