News

Delmas-tuinier se boeke-droom dalk binnekort bewaarheid

Simon is ’n slim man met baie talent en ’n sterk wil. Hy is ook baie wel ter tale.

Simon Mabena, ’n boorling van Delmas, se droom om kinderboeke in sy moedertaal uit te gee, kan nou ’n werklikheid word.

Mabena skryf kinderboeke in sy moedertaal, Suid-isiNdebele.

Hy het begin om handgeskrewe manuskripte aan sy uitgewers in Kaapstad voor stuur met die hoop op publikasie.

“Hulle het laat weet dat my boeke baie goed is, maar dat die manuskripte slegs aanvaar sou word as dit getik is,” het Mabena gesê.

Die uitgewers het ook reeds vir Mabena met raad en daad bygestaan deur wenke oor sy skryfstyl te gee en sekere foute uit te wys.

“Ek weet wat die uitgewers van my wil hê, ek moet net my stories getik kry,” het Mabena ook gesê.

Soos berig in Streeknuus (18 Maart) het Mabena wat tuinwerk vir ’n inkomste doen, nie oor die geld beskik om ’n rekenaar aan te koop nie.

As getroue Streeknuus-leser het Mabena, in ’n netjiese handgeskrewe Afrikaanse brief, vir Streeknuus om hulp genader.

Streeknuus het op Vrydag, 18 Maart op die rakke verskyn en Sondag, 20 Maart het die oproep deurgekom.

Dit was vanaf Bokkie Pretorius, onderwyser by Laerskool Delmas.

“Ons was heel verbaas om van Simon in Streeknuus te lees. Hy werk ook by my en my dogter in ons tuine.

“My dogter het ’n skoortrekenaar wat sy eers wou verkoop, maar sy het besluit om dit aan Simon te skenk,” het Pretorius Streeknuus meegedeel.

Pretorius het intussen die nodige programme op die skootrekenaar gelaai en Mabena het op Vrydag, 8 April sy skootrekenaar in ontvangs geneem.

’n Dankbare Mabena het vir Doané van der Spuy met ’n breë glimlag bedank vir die groot skenking.

“Baie dankie ook vir Streeknuus,” het Mabena ook gesê.

“Ek weet dit sal ’n bietjie stadig sal gaan, want ek moet eers leer hoe die rekenaar werk, maar nou kan ek my getikte manuskrip aan my uitgewers lewer.”

“Die Here is goed, kyk hy het nou vir my nog ’n instrument gegee. Hy gee nooit net ’n bietjie nie. Hy gee alles, ons moet net geduldig wees, want Sy tyd is nie ons tyd nie.”

Op haar beurt het Van der Spuy vir Mabena baie sterkte toegewens met die uitgee van sy eerste boek.

“Simon is ’n baie positiewe mens. Mag Simon sommer baie suksesvol en beroemd word.”

“Simon is ’n slim man met baie talent en ’n sterk wil. Hy is ook baie wel ter tale. Ek glo dat hy dit kan doen,” het Pretorius bygevoeg.

“Ek moet nou Bokkie se tuin klaar skoonmaak sodat hy my kan wys hoe hierdie rekenaar werk. Ek gee vir myself ’n bietjie tyd om te leer, maar ek moet so gou as moontlik begin tik,” het Mabena gesê voordat hy met die tuinhark in die hand om die draai verdwyn het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button