Local newsNews

Louise Jonker van Secunda verruil sakewêreld vir politiek

Sy wou nog atyd in politiek betrokke raak, nou kry sy geleentheid.

Louise Jonker (50) het in November haar loopbaan as hoof uitvoerende beampte en mede-direkteur van ’n onderneming op Secunda, verruil vir ’n loopbaan in die politiek.

Sy het in ’n huis op Bela Bela (Warmbad) grootgeword waar haar ouers gemaklik was met politiek.

Een van haar beste herinneringe aan haar kinderjare, is hoe haar pa hulle wakker gemaak het op stemdag en sy dan as kind gehelp het by die stemstasie.

Dit is vir Jonker ’n voorreg om as proposionele raadslid van die Vryheidsfront Plus gekies te word.

Sy gryp dié nuwe rol as raadslid met passie en mening aan en het gesê sy wou eintilk nog altyd ’n politikus word en die geleentheid het nou na haar kant toe gekom.

“Ek is dankbaar dat die gemeenskap my gekies het as raadslid,” het sy gesê.

“Dienslewering is vir my van kardinale belang en ’n groot fokuspunt vir my.”

Jonker het na haar matriekjaar op Bela Bela, vir haar graad in BA Kommunikasie studeer aan die Universiteit van Potchefstroom, maar nie klaargemaak nie en by ’n prokureursfirma begin werk.

Sy het later bevordering gekry na kantoorbestuurder en vir 14 jaar by dié firma op Bela Bela gewerk voordat sy dit vir Secunda verruil het in 2015.

Sy het op Secunda as besigheidsontwikkelaar gewerk vir drie jaar voordat sy haar eie onderneming begin het.

Jonker was al die jare ’n ondersteuner van die Vryheidsfront Plus, maar het ’n paar jaar gelede aktief betrokke begin raak by dié party en begin help met veldtogte en bemarking.

“Die Vryheidsfront Plus in dié omgewing, het gegroei van twee raadslede na drie,” het Jonker gesê.

In haar vrye tyd geniet Jonker dit om gholf te speel of om korporatiewe gholfdae te organiseer.

Sy is getroud met Johan Jonker en het ’n 15-jarige seun.

Sy het haarself as ’n energieke persoon beskryf wat graag met die gemeenskap hande wil neem om dienslewering en ander sake in die munisipaliteit, aan te spreek.

Jonker het reeds ’n saak by die Groen Skerpioene gemaak oor die toestand van die vullisterreine op Secunda en die omgewing.

Sy dien op die gemeenskapsdiens-portefeulje en die geografiese naamveranderings-portefeulje by Govan Mbeki Munisipaliteit.

Jonker het gesê die gemeenskap is welkom om haar te skakel by 064 973 1543 as hulle enige klagtes of probleme rakende die munisipaliteit het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button