Veldbrandseisoen is om die draai, die moets en moenies rondom voorbrande
Daar is verskeie brandbeskermingsverenigings in die Delmas en Bronkhorstspruit-omgewing geregistreer. Grondeienaars word versoek om aan te sluit by hul onderskeie verenigings aangesien dit tot hulle voordeel kan wees in terme van hulp en ondersteuning.
Dit is byna weer daardie tyd van die jaar, die winter is op hande en dit beteken grasbrande kan eiendom en lewens in gevaar stel.
Volgens die brandweerhoof van Victor Khanye, Frans Bolton, ondervind hulle jaarliks probleme met die ontstaan van grasbrande wat buite beheer raak.
“Tydens die Covid-19 pandemie was ons omgewing redelik gespaar van wegholgrasbrande. Vanjaar egter, met die laat reëns en die lang en digte gras, kan ons nie dieselfde uitkoms te wagte wees nie. Juis daarom ag ek dit nodig om aandag te gee aan die mees korrekte en veiligste metodes om onnodige verliese deur grasbrande te voorkom,” het Bolton gesê.
Volgens Bolton kan talle grondeienaars ’n finansiële nekslag toegedien word indien versekeringsmaatskappye weier om brandskade te vergoed. “Dít gebeur wanneer daar nie aan wetgewing voldoen is nie.”
Die Nasionale Veld- en Bosbrandwet, Wet 101 van 1998, vereis van grondeienaars om brandstroke of brandbane op hulle eiendomsgrense aan te bring.
Die doel daarvan is om te voorkom dat grasbrande na hul eiendom, of vanaf hul eiendom versprei. Volgens Bolton moet daar ook ten alle tye opgeleide werkers met die nodige beskermende klere en brandbestrydingstoerusting beskikbaar wees.
“Die beste tyd om voorbrande of brandbane te begin voor te berei, is vanaf April tot Mei in ons geografiese area, wanneer daar nog ’n mate van natuurlike beheer is.”
Die voorgeskrewe prosedure om te volg indien voorbrande deur middel van gebrande stroke gedoen word, is om jou bure 14 dae voor die tyd skriftelik van jou voorneme in kennis te stel. Bolton beklemtoon dat bure moet teken dat hulle kennis neem van voorneme en geen besware daarteen het nie.
’n Afskrif moet by die plaaslike brandweerhoof, wat ook die brandbeskermingsbeampte is, ingehandig word vir goedkeuring, en indien daar sekere spesiale vereistes is, vroegtydig daarvan kennis te kan neem.
Indien alle goedkeuring in plek is, en ’n geskikte dag deurgegee is, moet die eienaar weer sy bure in kennis stel dat die voorbrande op daardie dag gedoen sal word. Die brandweerhoof moet weer geskakel word om uit te vind of die brandindeks vir daardie dag geskik is en ook om ’n brandpermit vir die dag te verkry.
Bolton beklemtoon dat slegs die brandweerhoof, in sy hoedanigheid as brandbeskermingsbeampte van die brandvereniging, brandpermitte mag uitreik.
“’n Permitnommer word dan toegeken wat geldig is vir die dag/dae soos daarop aangedui. Indien die werk nie binne die gemelde dae voltooi kan word nie, moet ’n nuwe permit vir addisionele dae verkry word.”
Op die dag van die voorbrande moet die eienaar seker maak dat alle bestrydingstoerusting in plek en gereed is alvorens begin word. Verkieslik moet die bure wat grense deel, ook op daardie dag beskikbaar wees om te help en beskerming te kan bied indien iets verkeerd sou loop. “Dit is altyd raadsaam on brandbane gesamentlik te doen, sodoende kan beter voorsorg in plek gehou word.
“Die brandbane word vasgestel deur die spesifieke omgewingstopografie sowel as die plantegroei wat daar voorkom. Die algemene reël is dat brandbane ten minste 10 meter wyd moet wees, of dan vyf meter aan beide kante van ’n grensdraad.
Bolton beveel verder aan dat gras verder na binne kort gehou moet word om te voorkom dat grasbrande kan ‘spring’ of versprei.
“Gedeeltes waar voorbrande gedoen is, moet dan ook tydens die grasbrandseisoen skoon gehou word van enige brandbare produkte. Voorbrande hoef nie noodwendig op die grensdraad gemaak te word nie, veral as die topografie dit nie toelaat nie, soos byvoorbeeld vleiareas of waar bedreigde inheemse plantegroei moontlik beskadig kan word.
“Daar kan met aangrensende grondeienaars ooreengekom word dat voorbrande eerder geskuif word,” het Bolton verder gesê.
“Ek moet ook net noem dat voorbrande nie noodwendig gebrand hoef te word nie, dit kan met gif behandel word of skoon geskoffel of geskraap of geploeg/gedis word.”
Daar is verskeie brandbeskermingsverenigings in die Delmas- en Bronkhorstspruit-omgewing geregistreer.
Grondeienaars word versoek om aan te sluit by hul onderskeie vereniging/s aangesien hulle daarby baat met betrekking tot hulp en ondersteuning.
Lede van ’n brandvereniging word deur medelede bygestaan met die maak van brandbane, en selfs met die bestryding van grasbrande. Die verenigings het vasgestelde reëls ten einde te verseker dat hul lede voldoen aan die wetlike vereistes en daardeur beskerm kan word onder dieselfde wet.
Vir meer inligting kan die brandweerhoof van Victor Khanye in Delmas, Frans Bolton, by 083 377 3532 geskakel word.
Lees meer in ’n volgende uitgawe van Streeknuus oor voorkoming en rapportering van brande asook koste wanneer die brandweer ontbied word.



