Jong vrou van Delmas benodig ’n driedubbele orgaanoorplanting
“Ek het langs my kind se bed gestaan en die warmte om haar gevoel. Ek het hard met haar en met die Here gepraat. Sy sou leef, sy moes.”
Cecillia Biermann, ’n 23-jarige vrou van Delmas, benodig drie lewensbelangrike organe om haar lewensgehalte te verbeter en haar môre te verseker.
Cecillia is gebore en getoë op Delmas.
Vir die meeste vroue van haar ouderdom is dit ’n tyd van jonkwees geniet, van loopbaan bou en van blinkoog-toekomsplanne.
Cecillia is egter as baba met diabetes gediagnoseer. Sedertdien het sy nog nooit ’n “normale” dag beleef nie.
Haar en haar ouers se lewe bestaan uit toets vir suiker, die toediening van insulien en die asem ophou wanneer Cecillia hospitaal toe gejaag word, baie van dié kere in ’n koma.
Vir Cecillia se 21ste verjaarsdag in Oktober 2019 was daar groot planne in die Biermann-huishoudig.
Daar sou behoorlik uitgehang word om dié dag vir hul dogter ekstra spesiaal te maak. Dit het egter nie gebeur nie, want Cecillia was weer eens in die hospitaal opgeneem.

“Die dokters het gesê dat ons vir Cecillia moet groet, want die kanse dat ons haar nie weer gaan sien nie, was baie goed,” het haar ma, Helena Biermann, gesê.
“Ek het geweier om dit te aanvaar. Ek was histeries en het ewe hard op die dokter en my kind geskreeu dat Cecillia my nie moes los nie.
“Ek het langs my kind se bed gestaan en die warmte om haar gevoel. Ek het hard met haar en met die Here gepraat. Sy sou leef, sy moes.”
Weens die diabetes is Cecillia reeds jare gelede op die lys vir ’n skenker-lewer geplaas.
Sy moet egter ’n volledige lewer ontvang, want weens die aard van haar siekte kan nie net ’n gedeelte oorgeplant word nie.
Met Cecillia se mees onlangse besoek in April aan die hospitaal het die skok-diagnose egter gekom.
Cecillia is die slagoffer van driedubbele orgaanversaking en moes nou ook dringend ’n pankreas en nier kry.
Sy is ook onmiddellik op die nasionale skenkerslys vir ’n driedubbele orgaanskenking geplaas.
Omdat meer lede in die gesin van ses diabetes-lyers is, kan niemand vanuit hulle gesin ’n nier skenk nie.
Die twee gesinslede wie nie diabetes-lyers is nie, se bloedgroep maak dit onmoontlik om te kan skenk.
“Ek moet nou wag vir ’n persoon êrens daarbuite wat breindood verklaar word en wie se organe en bloedgroep pas by dié van myne,” het Cecillia gesê.
Nie net het Cecillia al vier hartaanvalle en menige suiker-verwante komas oorleef nie, sy het boonop weens die diabetes die sig in haar regteroog verloor.

Oogoperasies het reeds in 2019 ’n aanvang geneem, maar was nie suksesvol nie.
Die sig in haar linkeroog is ook baie beskadig, wat Cecillia se lewensgehalte verder belemmer.
“Dit is die vreeslikste ding om te hoor wanneer jou kind een oggend wakker word en histeries gil dat sy niks kan sien nie, ” het Helena gesê.
Op ’n vraag aan Cecillia oor waarmee sy haar bedags besig hou, was die antwoord kort en saaklik: “Eintlik niks, ek kan nie meer sien nie en is byna permanent siek en weens my baie lae ystervlakke is ek ook byna permanent moeg. Daar is dae wat ek beter voel, maar sonder sig is daar nie baie wat ek kan doen nie.”
Vir Cecillia wat baie lief is vir bak en kook, het die verlies aan sig ook nog daardie plesier van haar ontneem, maar met ma Helena se hulp en ’n vergrootglas kan sy glo darem nog regkom met ’n resep.
“Cecillia maak baie lekker kos,” het ma Helena laat hoor.
Nog ’n skok het gevolg nadat die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (SASSA) vanjaar geweier het om enige voordele verder aan Cecillia goed te keur.
“Sy het die afgelope twee jaar ’n SASSA-toelaag ontvang, maar skielik vanjaar en ten spyte daarvan dat sy ook intussen blind geword het, was die aansoek afgekeur,” het Helena Streeknuus meegedeel.
“Ons het ook doktersverslae aangeheg en selfs haar medikasie vir die personeel by die SASSA-kantoor gewys.”
Volgens Helena en Cecillia is daar in duidelike terme vir haar (Cecillia) gesê dat sy aansit, nie ’n oogklap dra nie en niks makeer nie. Sy moet glo gaan werk en haar aansoek vir ongeskiktheidstoelae was summier afgekeer.
Intussen bid dié hegte gesin vir Cecillia se herstel en haar toekoms as ’n normale jong vrou.
Derduisende rande se mediese koste en maandelikse uitgawes op medikasie, wat insulien, bloeddruk-medikasie en peperduur oogdruppel insluit, is die dag tot dag bestaan van die Biermann-gesin van Delmas.
“Ons is eintlik ’n baie normale gesin, ons stry en baklei soms, ons verskil oor dinge, ons lag saam en huil ook baie saam. Die krag van gebed dra ons deur.”



