Local newsNews

10-jarige van Secunda sukkel op skool weens swak oë

Besoek Fundraising for Lamaine Facebook-blad om te help.

Lamaine van Rooyen (10), ’n gr.4-leerder aan Laerskool Kruinpark, kort dringend ’n oogoperasie.

Sy sukkel al sedert geboorte met haar oë wat hang en sy kan nie mooi sien nie.

Haar ma, Bronwyn Botha, is gesê die ogies sal vanself regkom, maar dit het nooit nie.

Botha het uiteindelik in 2018 besluit om vir Lamaine na die Steve Biko Hospitaal vir ’n ondersoek te neem omdat haar oë net erger raak.

Dié kleinding het toe reeds een graad op skool gedruip omdat sy sukkel om op die bord te sien en haar skoolwerk te doen.

Dokters by dié hospitaal het toe gesê Lamaine moet ’n strabisme-hersteloperasie in beide haar oë kry.

Die hospitaal sal die gesin laat weet wanneer sy vir die operasies kan gaan, maar die gesin sukkel steeds om plek te kry by die Steve Biko Hospitaal vir die operasies.

“Hulle het twee maande ná daai eerste dag in 2018 wat ons met Lamaine by die hosptiaal was, laat weet hulle kan haar nie opereer nie want daar is nie spesialiste nie,” het Botha vertel.

Die gesin het Lamaine toe na die staatshospitaal in Witbank geneem, maar hulle kon ook nie help nie, want daar was glo ook nie ’n dokter nie.

Hulle het toe by Bethal Hospitaal gaan aanklop vir hulp, ook sonder sukses omdat dié hospitaal glo ook nie die nodige toerusting of personeel het om dié operasie uit te voer nie.

Die gesin het hulle toe na Ermelo Hospitaal gewend en ook daar is hulle meegedeel dat dié operasie nie daar uitgevoer kan word nie.

“’n Ander vrou wat ek ken se kind moet ook vir so operasie gaan en sy het gesê die waglys by die Steve Biko Hospitaal is vol tot 2024,” het Botha gesê.

Sy skakel die hospitaal gereeld om te hoor wanneer hulle Lamaine sal kan opereer en elke keer moet sy hoor dat hulle nie eers vir haar kan sê in watter jaar hulle haar kind sal kan opereer nie.

Sedert 2018 moes Botha al hoor, dis nie nood nie en die operasie is dus nie dringend nie, toe moes sy hoor dis Covid-19 en operasies word nie uitgevoer nie en nou het die hospitaal glo ’n lang waglys omdat hulle agter is met die operasies sedert die pandemie ’n stop op alles geplaas het.

“My kind kan dit nie bekostig om nog ’n jaar te druip omdat sy sukkel met haar oë nie,” het Botha gesê.

Lamaine dra al sedert sy vyf jaar oud is ’n bril, maar haar splinternuwe bril het onlangs gebreek.

Die gesin het nie ’n mediese fonds nie en het ook nie genoeg geld om die bril dadelik weer te vervang nie.

Omdat Lamaine se oë so swak is, moet sy ’n spesiale bril met baie spesifieke lense dra.

Die gesin het haar op haar oupa, Herman du Plessis, se mediese fonds probeer plaas, maar dit is nie moontlik nie tensy Du Plessis haar wettiglik aanneem.

’n Vriendin het vir Botha aangeraai om te probeer geld insamel sodat ’n privaatdokter vir Lamaine kan opereer.

Botha het Lamaine toe na ’n privaatdokter geneem wat gesê het dit sal sowat R70 000 kos om beide haar oë te opereer.

Die gesin het reeds ’n Facebook-blad, Fundraiser for Lamaine, begin asook ’n backabuddy-profiel om geld vir Lamaine in te samel.

“Ek wil graag my kind help. Die kinders spot haar by die skool en haar oë se toestand vererger soos wat sy ouer word,” het Botha gesê.

Besoek die Facebook-blad of https://www.backabuddy.co.za/lamaine-du-plessis-2022 om Lamaine te ondersteun.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button