Gesteelde skape met ’n minibus taxi in Delmas-omgewing karwei
Verdagtes was glo doodluiters besig om skape langs die Arbor / Argent pad op Delmas, in die minibus taxi te laai.
’n Totaal van 15 gesteelde skape was in ’n minibus taxi geprop.
’n Wit minibus taxi met ’n Gautengse registrasienommer is op Donderdag, 6 Mei omstreeks 06:25 in verdagte omstandighede opgemerk.
Verdagtes was glo doodluiters besig om skape langs die Arbor / Argent-pad op Delmas, in die minibus taxi te laai.
Lede van die Argent AfriForum Plaaswag is na die toneel ontbied.
Met hul aankoms het die taxi glo teen ’n hoë spoed van die toneel weggejaag.
Na ’n wilde jaagtog op die Groenfontein-grondpad het die minibus taxi tot stilstand gekom en die verdagtes het die mielielande ingevlug.
Binne-in die minibus taxi is daar 15 lewendige skape gevind.
Na verdere ondersoek deur die Cullinan-veediefstaleenheid, kon daar met sekerheid vasgestel word dat die skape op die plaas Blesbokfontein in die Bronkhorstspruit-omgewing gesteel was.
Daar was beslag gelê op die minibus taxi.
Teen druktyd was daar nog geen arrestasies gemaak nie.




