AfriForum se Mpumalanga-buurtwagte ontvang opleiding
“Gebeurlikheidsbeplanning help ons buurtwagte om onmiddellik suksesvolle en effektiewe optredes saam met die nodige rolspelers te loods.”
AfriForum se buurtwagte in Mpumalanga het met die eerste van verskeie opleidingsdae afgeskop.
Die opleiding het op Saterdag, 23 April op Middelburg plaasgevind.
Lede van Delmas se Valke AfriForum Buurtwag is deur Carel Botha, voorsitter, Jaun Herholdt, veiligheid, en Eugene van Niekerk, tesourier, by die opleidingsdag verteenwoordig.
Die dag se verrigtinge het uit drie modules bestaan.
Die eerste module was regs- en risiko-opleiding en het ten doel gehad om buurtwaglede met kennis te bemagtig oor hoe om korrek en volgens die wet op te tree.
Die tweede module het gehandel oor toneelhantering omdat buurtwaglede op verskillende situasies reageer en soms help om tonele te beveilig en bewyse te bewaar.
“Buurtwaglede is soms die eerste persone op ’n toneel en moet verseker dat soveel moontlik bewyse behoue bly sodat ’n ondersoek suksesvol afgehandel kan word,” het Arlo Van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld, gesê.
Die derde module het gefokus op gebeurliksheidsbeplanning. Hierdie opleiding help buurtwagte om voor te berei vir verskillende situasies soos onder andere onluste en voertuigdiefstal.
“Gebeurlikheidsbeplanning help ons buurtwagte om onmiddellik suksesvolle en effektiewe optredes saam met die nodige rolspelers te loods,” het Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder in die Hoëveld, gesê.






