Die jaarlikse basaar van die NG Nooitgedacht-gemeente het op Saterdag, 7 Mei plaasgevind.
Die kerk-terrein het gegons met honderde feesgangers en sowat 12 uitstallers wat om elke hoek en draai die besoekers se aandag met iets vir die oog getrek het.
Beulha’s Country Line-dansers het die dag afgeskop met lekker country-musiek en danspassies.
Daar was ook perderitte vir die jongspan en die bulry-uitdaging het elke tienerseun laat klou vir lewe en dood.
Elizca van Aarde het met twee diamante weggestap wat sy by die diamantstalletjie gewen het.
Die reuk van kaneel het in die lug gehang met die geurige tuisgebak en pannekoek wat uitgestal is.
Skilderye het tussen die stalletjies gepronk en selfs antieke ware is opgeveil.
Die Shotokan-ZA karate-lede het ook ’n vertoning gelewer.
“Die mense is lief vir kerkbasaar hou, veral omdat dit op die platteland is. Lekker onder die bome vol kuier, ontspan en smul aan peuselhappies,” het organiseerder, Ina Fourie laat hoor.













