Buurtwag se paraatheid lei tot inhegtenisname van drie verdagtes op Sundra
Met behulp van ’n hommeltuig, ’n klein Jack Russel-hondjie, bystand vanuit verskeie oorde en parate waagmoed kon die Sundra Bulldogs Buurtwag daarin slaag om drie van die verdagtes vas te trek en het hulle ook drie van die vuurwapens en ammunisie teruggevind.
Tydens die suksesvolle samewerking van die Delmas Polisie en ’n plaaslike buurt- en plaaswag is sewe verdagtes in hegtenis geneem.
Die verdagtes se ouderdomme wissel tussen 21 en 42 jaar oud.
Daar is op ook op vyf vuurwapens en ammunisie beslag gelê. Drie voertuie, ’n Toyota Hilux dubbelkajuit-bakkie, ’n Mahindra ligte afleweringsvoertuig, sowel as ’n Toyota Quantum, 10 selfone, ’n kragopwekker en twee dieselpompe was op die lys van sukses.
Met behulp van ’n hommeltuig, ’n klein Jack Russel-hondjie, bystand vanuit verskeie oorde en waagmoed, kon die Sundra Bulldogs Buurtwag daarin slaag om drie van die verdagtes vas te trek. Hulle het ook drie van die vuurwapens en ammunisie teruggevind.
Nadat die Lefa Myn naby Belfast glo die aand van 7 Junie beroof is, is inligting ontvang dat die verdagtes in drie voertuie in die rigting van Delmas op pad was.

’n Oproep om hulp het op Woensdagoggend, 8 Junie die Bulldogs en Argent Plaaswag bereik.
’n Bulldog-span het vinnig gereageer en na die toneel naby die skietbaan in Delmas gehaas.
’n Wit Toyota dubbelkajuit-bakkie wat met ’n satellietopsporing-toestel toegerus is, is teen ’n koppie in die omgewing van die skietbaan opgemerk. Vier verdagtes het toe reeds die koppie ingevlug. Die Bulldogs is agterna.
Van nêrens vandaan het daar egter glo ook ’n ratse en kordate klein Jack Russel-hondjie op die toneel verskyn.
“Dit was baie steil op na bo en ek het geglo die hondjie sou dit nie teen die steil helling maak nie. Groot was my verbasing toe ons bo kom en die klein hondjie wag reeds vir ons,” het een van die Bulldogs se lede Streeknuus meegedeel.
Met behulp van aanwysings, soos deur die Sundra Bulldogs se hommeltuig-vlieënier deurgegee, kon die vlugtelinge se posisies vasgestel word.

Die Bulldogs het blitsvinnig twee van die verdagtes vasgetrek, maar ’n derde en vierde was nog soek.
“Dit is nou hier waar Wors, die klein Jack Russel, die eintlike held van die dag geword het. Ons het opgemerk dat die hondjie na ’n sekere plek gehardloop het. Groot was ons verbasing toe verdagte nommer drie in ’n skeur tussen die klippe op die koppie gevind is,” het Derek Bester, voorsitter van die Sundra Bulldogs vertel.
“Hierdie hond is eintlik die held van die dag,” het beide Philip Snyman, voorsitter van AfriForum se Argent Plaaswag en Bester gesê.
Lede van die Argent AfriForum Buurtwag het die Bulldogs bygestaan deur die toneel te omsingel en so seker te maak dat daar nie moontlike verdagtes oor die koppie of by ander uitgange sou kon ontsnap nie.

’n Vierde verdagte was egter nog soek. Die polisie het inligting gekry dat ’n Toyota Quantum die vierde verdagte op die R42 tussen Delmas en Bronkhorstspruit opgelaai het. Die voertuig is agternagesit en nog twee verdagtes kon inhegtenis geneem word.
Die polisie het blitsvinnig leidrade opgevolg wat hulle na ’n huis in Botleng, Delmas gelei het. Nóg twee verdagtes is daar in hegtenis geneem.
Lt.-gen. Semakaleng Manamela, provinsiale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisie in Mpumalanga, het die samewerking tussen die Delmas Polisie en plaaslike buurtwagte geloof.
Die polisie het verder gesê dat die moontlikheid bestaan dat die verdagtes met ander sake verbind sou kon word.
Die sewe verdagtes was teen druktyd nog in aanhouding op klagtes van roof, die besit van vermoedelik gesteelde goedere, besit van vermoedelik gesteelde voertuie sowel as die besit van ongelisensieërde vuurwapens en ammunisie.





