CrimeNewsStreeknuus

Delmas ontaard in Wilde Weste

Die vier vermeende rowers het uitgespring en verder te voet gevlug. Met die polisie kort op hul hakke was skote afgevuur en al vier die rowers was binne enkele minute in hegtenis geneem.

Delmas was in rep en roer toe boodskappe op sosiale media deurgekom het dat skote in Delmas-Wes klap. Nog boodskappe het gevolg dat die polisie glo agter ’n voertuig aanjaag.

Dié Wilde Weste-jaagtog en skietery het op Dinsdag, 14 Junie omstreeks 09:30 plaasgevind. Die skietery het glo gevolg nadat ’n ryloper in Sundra deur vier insittendes in ’n silwer Toyota Corolla ’n saamrygeleentheid na Delmas aangebied is.

Volgens die slagoffer, het die rowers kort nadat hy in die voertuig geklim het, messe uitgepluk. Hulle het hom glo hierna van sy beursie en selfoon beroof.

Net duskant Eloff het die voertuig tot stilstand gekom. Die slagoffer is die bosse ingedwing waar die rowers op sy bankkaarte se pinkodes aangedring het.

Die skade wat ’n slaggat aan vermeende rowers se voertuig veroorsaak het, is duidelik sigbaar.

Volgens betroubare inligting, het die rowers die slagoffer aangerand, maar hy het glo met mening terugbaklei. Hy het glo ook aan die rowers gesê het dat daar nie geld in sy bankrekening is nie.

Die rowers het in die voertuig in Delmas se rigting gevlug en die slagoffer in die bosse agtergelaat.

Volgens die slagoffer het hy hierna na die pad gestap en ’n polisievoertuig van Sundra wat toevallig daarlangs gery het, gestop. Hy het aan hulle verduidelik wat gebeur het en so het die hoëspoed-jaagtog op die R555, rigting Delmas begin.

“Ek was vanaf Eloff op pad om my kinders in Delmas by die skool af te haal. Die Toyota het teen omtrent 100km ’n uur in die 60km per uur sone gery. Hy het roekeloos en wild en wakker verbygesteek en was oral oor die pad. Hy kon ’n ongeluk veroorsaak het of iemand se dood gekos het,” het een bystander Streeknuus meegedeel.

Twee van die vermeende rowers wat deur die polisie in hegtenis geneem is.

Die voertuig het hierna links in Hospitaalstaat in Delmas ingedraai, glo steeds teen ’n hoë spoed.

Die voertuigbestuurder het skynbaar nie tred gehou met die massiewe slaggate in dié straat nie en die voertuig se linkervoorband beskadig. Die bestuurder het egter aanhou ry, deur HF Verwoerdstraat en links gedraai in Samuelweg waar dit uiteindelik voor die rolbalklub tot stilstand gekom het.

“Ek dink die rowers het besef dat hulle nie die R50 se slaggate op drie wiele sou kon aandurf nie,” het ’n nog ’n bystaander op die toneel opgemerk.

Die Toyota Corolla waarin vier vermeende rowers gevlug het, moes tot stilstand kom nadat dit ’n slaggat in Hospitaalstraat getref het.

Die vier vermeende rowers het uitgespring en verder te voet gevlug. Met die polisie kort op hul hakke, is skote afgevuur en al vier die rowers is binne enkele minute in hegtenis geneem.

Na die inhegtenisnames, het ’n polisiebeampte ewe goedsmoeds in die Toyota geklim en dit met slegs drie bande en een erg beskadigde wielvelling na die Delmas Polisiestasie toe gery.

Teen druktyd was die vier vermeende rowers nog in aanhouding.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button