Mense in taxi beroof ryloper op Eloff
Na ’n paar minute se ry het een van die insittendes van die Quantum, gewapen met ’n byl, glo die ryloper beetgekry, sy kop afgedruk en hom beveel om stil te bly.

’n Niksvermoedende ryloper is op Saterdag, 18 Junie op Eloff met ’n byl gedreig en van sy besittings beroof.
Die ryloper het omstreeks 14:45 in Spoorweglaan duimgegooi vir ’n saamrygeleentheid.
Volgens ’n mediaverklaring deur kapt. Linky Olckers, stasiebevelvoerder van die Sundra Polisie, het ’n wit Toyota Quantum met sowat ses insittendes by die slagoffer gestop.
Na ’n paar minute se ry, het een van die insittendes, gewapen met ’n byl, glo die ryloper beetgekry, sy kop afgedruk en hom beveel om stil te bly. Drie ander het die slagoffer deursoek en hom van sy selfoon en kontant beroof.
Die ryloper is hierna in Sutterlaan op Sundra afgelaai waar ’n verbyganger hom te hulp gesnel het en na die Sundra Polisie geneem het.
Die slagoffer het toe saam met die polisie in die rigting van Springs gery. Dieselfde Quantum-bussie is gewaar.
’n Hoëspoed-jaagtog het gevolg waarna die bussie uiteindelik in Etwatwa tot stilstand gedwing is.
Die insittendes van die taxi het gevlug, maar een vrou is in hegtenis geneem.
Die polisielid wat die inhegtenisname gedoen het, is later ingelig van ’n klaer by die Etwatwa Polisie wat glo ’n kapingslagoffer is.
Met dié se aankoms by die Sundra Polisiestasie, is hy egter deur die slagoffer uitgeken as die bestuurder van die Quantum waarin hy (die slagoffer) vroeër beroof is.
Die bestuurder van die Quantum is toe ook in hegtenis geneem.
“Ons het vir ’n geruime tyd probleme met rylopers wat deur taxi’s opgelaai en dan beroof word. Hierdie is dus vir ons ’n positiewe deurbraak,” het Olckers gesê.



