Beurtkrag vat aan Streeknuus se lesers
“Dit maak my moedeloos. Ek het reeds soveel stres om te probeer aan die lewe bly,” het Brits laat hoor.
Inwoners van die omliggende ongewings is keelvol om in die donker te sit.
Die frustrasie van beurtkrag duur voort en laat inwoners daarna smag om in sonpanele te belê, maar met die brandstofverhogings en die land se verswakte ekonomie, is menigdes platsak.
Inwoners kners op hul tande om te dink dié is net die begin, veral met die implementering van fase 6-beurtkrag wat vandeesweek soos ’n donkerwolk op almal neergedaal het.
Plaaslike sake-ondernemings is vandeesweek hewig deur die lang kragonderbrekings geraak.
Carne Osso Slaghuis op Bronkhorstspruit se bestuurder, Willem Odendaal, meen dit raak hulle verkoopsprys drasties.
“As ons nie krag het nie, moet ons ’n kragopwekker ten duurste aankoop. Alles moet koud gehou word en met die verhoging in brandstofpryse, het ons geen ander keuse as om ons verkoopsprys te verhoog om die verlies op te maak nie,” het Odendaal verduidelik.
Hettie van Zyl, ’n plaaslike bakker, is selfonderhoudend en bak meer as 2 000 koekies op ’n gereelde basis.
As entrepreneur wat aan tuisnywerhede ’n magdom tuisgebak moet verskaf, beïnvloed die beurtkragskedule haar inkomste.
“Die grootste ding is om te beplan. As die krag af is, kan ons gou staan en solank koffiekoekies rol. Dis handewerk nadat die deeg vooraf met mengers aangemaak is.
“As die oonde aankom, kan ons net bak. Ek kom nie altyd by alles uit nie, want soms met die beskuit, is die ure te min om te droog en dan moet ’n ander oond gebruik word,” het Van Zyl gesê.
Die kragsituasie beïnvloed ook noodsaaklike watertoevoer.
Rayton-inwoner, Bernice Fourie, het verduidelik dat die kringloop van krag en water basiese behoeftes van inwoners kelder.
“As die krag af is, is die reservoir se pomp ook af en dan sit jy met daai straaltjie water. Jy sidder met beurtkrag en bid dat ’n kragboks nie weer uitbrand as krag aangeskakel word nie.”
Jaco Niemandt van die Rayton-omgewing het vertel die landwye beurtkrag raak veral dié dorpie.
“Dié krag-storie is seker maar ’n pyn vir die hele land, maar ons sukkel veral in ons gebied met die waterdruk wanneer vragmotors water uit die brandkrane in uitbreiding 13 tap,” het Niemandt verduidelik.
Nie net word die menslike behoeftes soos water en elektrisiteit ’n uitdaging nie, maar inwoners se gesondheid lei ook daaronder.
Delamaine Brits van Rayton het emfiseem en is van ’n verstuiwer (nebuliser) afhanklik.
Haar masjien werk met krag.
“Ek het die masjien tydig en ontydig nodig.
“Ek kry net ’n staatspensioen en kan nie ’n kragopwekker en brandstof bekostig nie.
“Al my pensioen gaan vir medikasie. Boonop sukkel ’n mens om wasgoed te was en te bad sonder voldoende watertoevoer.
“Dit maak my moedeloos. Ek het reeds soveel stres om te probeer aan die lewe bly,” het Brits laat hoor.
Kobie Swanepoel is die pa van twee aanlyn-studente. Deesdae moet hulle staar na ’n swart skerm.
“Die kragstorie maak dit ’n onbegonne taak vir hulle om bedags op hul rekenaars te werk.. Wanneer moet hulle studeer? Wat van matrikulante? Ons sit met ons hande in ons hare,” het Swanepoel gesê.
Jelanie Bouwer se moed sak in haar skoene met die beurtkrag en fase 6 op haar voorstoep wat alles onderstebo trek.
“Dis nie net die krag nie, maar ook werk wat benadeel word.
“Dis ’n inkomste en ’n lewe. Net om daagliks jou werk te doen, verg baie geduld. Dis nou as jy gelukkig is om selfoonopvangs of internetsein tot jou beskikking te hê.
“Ons praat nie eens van kosmaak en al die gewone huistake nie.
“Dan is daar die ander probleme soos jou yskas en vrieskas, om maar net twee te noem, wat nie hou nie, en die stygende brandstofprys as jy gelukkig genoeg is om ’n kragopwekker te besit. Geen mens kan
byhou met als nie,” het Bouwer bygevoeg.



