CrimeNewsStreeknuus

Vlugtende kapers eis fietsryer op N12 naby Sundra

Die fietsryer is nog nie geidentifiseer nie.

’n Saak van strafbare manslag word deur die Sundra Polisie ondersoek nadat vermeende kapers op Maandag, 27 Junie, ’n fietsryer naby Sundra op sy fiets doodgery het.

Die verdagtes het die fietsryer getref in ’n poging om private sekuriteitslede te ontduik nadat hulle na bewering omstreeks 09:30 ’n vragmotor op die N12, by die Etwatwa-afrit by Sundra, probeer kaap het.

Volgens speur-kapt. Linky Olckers van Sundra Polisie, was twee burgers van Bangladesj wat goedere in Springs aangekoop het, in die rigting van Witbank onderweg toe vier verdagtes in ’n silwer Toyota Corolla hulle afgetrek en probeer kaap het.

Sekuriteitswagte wat op patrollie was, het die drama opgemerk en gaan help.

’n Skietgeveg het tussen die sekuriteitlede en die verdagtes uitgebreek en twee van die verdagtes is in die voorval doodgeskiet.

Twee ongelisensieerde vuurwapens is op die toneel teruggevind.

Die ander twee verdagtes het in die Toyota Corolla van die toneel in die rigting van Katboschfonteinweg gevlug.

Die silwer Toyota Corolla waarmee die verdagtes die fietsryer getref het. Foto: Verskaf

Die sekuriteitslede het hulle agterna gesit.

Die kapers se motor is tot stilstand gedwing toe hulle die fietsryer omgery het.

Die twee het uit die motor gespring en te voet in die nabygeleë bosse verdwyn.

“Ongelukkig is die fietsryer nootlottig beseer. Die oorledene is nog nie geïdentifiseer nie,” het speur-kapt. Olckers gesê.

“’n Voorlopige ondersoek het tot dusver aan die lig gebring dat die Corolla in Februarie in Kempton Park (Gauteng) as gesteel aangemeld is en dat dit met vals nommerplate toegerus is,” het brigadier Selvy Mohlala gesê.

Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting wat kan help met die in hegtenisname van die verdagtes wat nog op vrye voet is, om speur-kapt. Olckers te kontak by 082 370 0921 of die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111.

Die publiek kan ook inligting via MYSAPSAPP stuur.

Alle inligting wat ontvang word, sal as vertroulik hanteer word en bellers kan kies om anoniem te bly.

Die toneel waar twee burgers van Bangladesj byna gekaap is. Twee van die kapers is in ’n skietgeveg met sekuriteitslede doodgeskiet terwyl twee ander ontvlug het. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button