CrimeNewsStreeknuus

Delmas-polisiesersant gekaap, vier keer geskiet

Sers. Charles Sibeko isowat 1km vanaf die R42-afrit aan die N12, rigting Johannesburg, in die gras gevind.

Hy sou glo ’n nabygeleë buurman gaan help het om dokumente in te vul, maar is later die aand met vier skietwonde langs die N12-hoofweg gevind.

Sers. Thokozane Charles Sibeko (46) het glo sy huis op Delmas op Vrydag, 8 Julie omstreeks 17:00 verlaat.

Hy het sy vrou, Naume Moteno meegedeel dat hy ’n buurman sou gaan help om sekere dokumente te voltooi.

Omstreeks 20:45 het Sibeko se vrou gehoor hoe ’n voertuig buite hul woning se hek toeter blaas.

Sy het haar man buite saam met drie onbekende mans gewaar.

Moteno het na buite gegaan waar die drie verdagtes glo op haar geskreeu het dat haar man hulle geld skuld en dat hulle (die verdagtes) hom (Sibeko) later sou terugbring.

Volgens Moteno het sy ’n skoot gehoor afgaan waarna sy gesien het hoe die verdagtes vir Sibeko in sy wit dubbelkajuit Izusu-bakkie forseer.

Moteno het hierna die polisie gekontak.

Kapt. Carla Hartley lê by ’n gewonde sers. Thokozane Sibeko waar hy in die gras langs die N12 gevind is. Foto: Verskaf

Die polisie het na die toneel gehaas en het wel een patroondoppie gevind.

“’n Uitkyk vir Sibeko en sy bakkie is hierna versprei,” het kapt. Carla Hartley, mediawoordvoerder vir die Delmas Polisie gesê.

“Ek en Hendrik de Klerk van Bad Boyz Sekuriteit het voortgegaan om na sers. Sibeko op die N12 te soek,” het Hartley verder gesê.

Volgens Hartley, het hulle vir Sibeko sowat 1km vanaf die R42-afrit aan die N12, rigting Johannesburg, in die gras gesien lê.

Sibeko het vier skietwonde gehad.

Alle rolspelers is na die toneel ontbied, mediese hulp is ook aan Sibeko op die toneel verleen waarna hy na die Netcare Hospitaal in Alberton geneem is.

’n Operasie is op Saterdag, 9 Julie op Sibeko uitgevoer om die koeëls te verwyder.

Volgens Hartley, is Sibeko se bakkie steeds nie teruggevind nie en teen druktyd was daar ook nog geen inhegtenisnames gemaak nie.

Teen druktyd was sers. Sibeko steeds in ’n kritieke toestand, maar stabiel.

Paramedici verleen hulp aan die swaar gewonde sers. Thokozane Sibeko. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button