Wilma Venter, Vryheidfront Plus-raadslid vir wyk 10, het die aanstelling van ’n kontrakteur om aan die Coligny-rioollyn te werk, verwelkom.
Volgens ’n persverklaring van 11 Julie, kan dit die voortslepende rioolkrisis in die Lekwa Munisipaliteit beredder.
“Die aanstelling volg op volgehoue druk van die VF Plus om die jarelange rioolkrisis op te los,” het Venter gesê.
’n Bedrag van R21-miljoen is begroot vir die projek om die rioollyn vanaf Colignystraat tot die Muller-rioolpomp aan te lê.
Volgens die verklaring, sou die kontrakteur na verwagting verlede week begin om te werk en die eindproduk sal ’n langtermynoplossing wees.
“Duisende liters riool beland daagliks in stormwaterslote op die dorp en vloei dan in die Vaalrivier,” het sy bygevoeg.

Talle boere en inwoners is afhanklik van water uit die rivier vir landbou- en huishoudelike doeleindes.
“Nie net het Lekwa se wanbestuur bygedra tot die agteruitgang van die munisipaliteit nie, maar ook tot gesondheidsgevare vir inwoners en die omgewing.”
Volgens Venter het die VF Plus al in 2020 ’n strafregtelike klag ingedien vir die aanhoudende besoedeling van die Vaalrivier.
Die oortredings was ingevolge artikel 151(i)(j) van die Nasionale Waterwet (36 van 1998) en die Afvalbestuurswet (59 of 2008).
Die munisipaliteit was ook in minagting van ’n hooggeregshofbevel (2018) vir besoedeling.
Die nasionale departement van water en sanitasie het in 2018 gesorg dat die hooggeregshof ’n bevel teen die munisipaliteit uitreik om sy rioolstasies dadelik te herstel en om te verhinder dat die Vaalrivier en ander bronne verder besoedel word.
Volgens inligting en video-opnames van inwoners op Standerton, loop die riool steeds die afgelope vier jaar in die rivier en die bevel is bloot geïgnoreer.
“Die VF Plus sal aanhou om druk op die Lekwa Munisipaliteit te plaas om seker te maak dat diensleweringsprobleme reggestel word,” is mee afgesluit
“Inwoners is geregtig op die diens waarvoor hulle betaal.”



