MunicipalNewsStreeknuus

Beter dienslewering glo in die pyplyn vir VKLM-inwoners

Die gesteelde en beskadigde meters word egter nie met voorafbetaalde meters vervang nie, maar met die tradisionele meters wat glo ook vervolgens op ’n maandelikse basis deur die munisipaliteit gelees sal word.

Die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) beplan om hul dienslewering op te skerp.

Tydens ’n tegniese vergadering wat op Dinsdag, 12 Julie plaasgevind het, is daar baie planne op die tafel geplaas.

Volgens Diane Bath, DA-raadslid by VKLM, het die vergadering goed afgeloop en is verskeie probleme aangespreek.

Die aanhoudende watertekort in Sundra en Eloff was een van die besprekingspunte.

Soos berig in Streeknuus, 22 Julie, is die kragopwekker by die Eloff-watertoring weer in werkende toestand.

Daar word gehoop om ook die kragopwekker by Modderbee te vervang om die inwoners van Sundra en Eloff op ’n meer gereelde basis van water te kan voorsien.

Die gereelde beurtkrag wat deur Eskom ingestel word, maak dit ook nie makliker vir die inwoners van dié dorpe nie.

Water word van Modderbee na die Sundra-watertoring gepomp en wanneer dit 75% kapasiteit bereik, word die pompe na die Eloff-watertoring aangeskakel.

Skade wat deur kabeldiewe tydens beurtkrag aangerig is.

Tydens beurtkrag word die siklus egter gereeld onderbreek en trek sommige hoogliggende wonings en Eloff-inwoners gereeld aan die kortste end.

Baie inwoners het ook, weens die watertekorte, JoJo-tenks laat installeer en word dié tenks gevul soos water beskikbaar raak.

Dit dra ook daarby toe dat inwoners sonder tenks soms vir dae aaneen geen water het nie.

Om die probleem aan te spreek, is daar glo getoets vir water en die moontlikheid vir die sink van boorgate om dié gebiede te bedien, is nie uitgesluit nie.

“Ons wag net vir die konsultant se verslag. Die projek word deur die Nkangala Distrik Munisipaliteit gefinansier.”

Bath het verder gesê dat die vul van JoJo-tenks steeds groot uitdagings inhou omdat daar net twee watertenkers beskikbaar is.

Die moet ook die buitewyke van die dorp van water voorsien.

“Daar sal egter ’n amptenaar aangewys word wat na die verspreiding van water en instandhouding van die JoJo-tenks sal omsien.”

Byna elke watermeter, nuut en oud, is die afgelope twee jaar gesteel.

Direkte opkoppelings is deur die munisipaliteit gemaak.

In dié tyd het VKLM aangevoer dat daar nie geld vir die vervanging van watermeters is nie.

Volgens Bath, is VKLM tans besig om watermeters by die huise te installeer.

Die gesteelde en beskadigde meters word egter nie met voorafbetaalde meters vervang nie, maar met die tradisionele meters wat glo ook op ’n maandelikse basis deur die munisipaliteit gelees sal word.

Bath het verder genoem die DA het tydens die tegniese vergadering voorgestel dat boetes vir verkeersoortredings voortaan eerder op die paycity.co.za betaal moet word.

Hierop kan inwoners dan hul boetes self sien en betaal.

Hierdie is slegs een van die baie slaggate in Vleilaan op Delmas.

Die verkeersdepartement oorweeg glo tans die opsie.

Nog ’n groot probleem wat oor jare die inwoners van Eloff teister, is die riool.

Streeknuus het op verskeie geleenthede berig oor die riool wat van ’n blok woonstelle vrylik in die strate loop.

Weer eens kon Bath bevestig dat die projek vir die nuwe riool-aansluiting ten einde laaste goedgekeur is en dat dit net ’n kwessie van tyd is voordat dit sal begin.

Inwoners kla ook gereeld oor die agteruitgang van paaie in die omgewing.

Slaggate veroorsaak gereeld skade aan voertuie en sommige paaie is onbegaanbaar.

“Ek meld op ’n maandelikse basis alle slaggate en paaie wat geskraap moet word aan by VKLM.

“Dit bly egter ’n uitdaging, want die munisipaliteit het twee skrapers, maar slegs een operateur.

“Paaie word gelap, maar veral die paaie op Eloff en by die kleinhoewes het baie dringend aandag nodig,” het Bath gesê.

Die verf van padmerke en spoedhobbels het glo ook tydens die tegniese vergadering ter sprake gekom en daar is gevoel dat dit prioriteit behoort te geniet.

’n Nuwe tendens wat deesdae kop uitsteek, is kabeldiefstal, veral in die Dunbar- en Uyslaan-omgewing op Delmas-Wes en op Eloff wat tot verdere elektrisiteitsvoorsieningsprobleme lei.

Dit blyk dat die kabels tydens beurtkrag gesteel word en die fout dus eers weer met die aanskakeling van die krag ná beurtkrag agtergekom word.

Streeknuus het ’n paar inwoners se menings omtrent dié beplande verbetering in dienslewering wat tydens die tegniese vergadering bespreek is, gevra.

“Sien is glo,” was in die meeste gevalle die antwoord.

“Ek is vir byna drie jaar sonder ’n watermeter. Daar word wel ’n R500 maandelikse heffing op my rekening gevoeg, maar dit was ook daar toe ek ’n voorafbetaalde meter gehad het. Hoe dit reggestel gaan word, weet nugter alleen,” het een inwoner Streeknuus meegedeel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button