Local newsNews

Bejaarde skiet twee inbrekers op Eloff-kleinhoewe dood

Toe die twee inbrekers met hul messe in sy rigting begin beweeg het, het hy sy gelisensieerde vuurwapen afgevuur.

’n Bejaarde pensionaris wat alleen op sy kleinhoewe in Eloff woon, het op 16 September twee betreders bínne sy huis doodgeskiet.

Die man (76) se naam is aan Streeknuus bekend. Volgens die man het sy alarm hom vroegoggend wakker gemaak. Hy het na die kombuis beweeg.

“My vermoede dat iets nie pluis was nie, is gou bevestig toe ek gesien het dat ’n kasdeur in die gang oopgestaan het,” het die man gesê.

In die eetkamer het sy grootste nagmerrie waar geword toe hy twee mans, albei glo met messe gewapen, teëgekom het.

Hierna het alles glo baie vinnig gebeur. Toe die twee inbrekers met hul messe in sy rigting begin beweeg het, het hy sy gelisensieerde vuurwapen afgevuur.


LEES OOK: Kruise vir slagoffers van plaasmoorde geplant


As ’n lid van die AfriForum se Eloff Buurtwag, het die man hierna om hulp op sy radio geroep. Volgens Heila Coetzee van die Eloff Buurtwag, het die buurtwag dadelik op die noodroep gereageer en was hulle van die eerstes op die toneel.

Die Sundra Polisie is na die toneel ontbied. Paramedici het later die twee betreders op die toneel dood verklaar.

Volgens Coetzee, was die man erg getraumatiseer en met hul aankoms op die toneel, was hy nog in skok.

“Die oom is oud en woon alleen op sy plot. Dit is boonop nie die eerste keer dat dit hom oorkom nie. Tydens ’n vorige voorval het hy ook op ’n betreder geskiet. Dié het egter gevlug, maar is later lewend opgespoor,” het Coetzee gesê.

Voorwerpe is in die elektriese heining geplaas en toegang is waarskynlik so tot die kleinhoewe verkry. Die betreders glo toegang tot huis gekry deur by die venster van die studeerkamer te breek.


LEES OOK: Cops nab two suspected dagga dealers in Bronkhorstspruit


Intussen het die provinsiale kommissaris van die polisie in Mpumalanga, luit-gen Semalakeng Daphney Manamela in ’n mediaverklaring gesê dat die ondersoekbamptes die saak deeglik en sonder vrees of guns sal ondersoek ten einde vas te stel wat werklik gebeur het.

Die gebeure volg kort nadat ’n ander bejaarde inwoner van Eloff, Raymond Tyack (59), op 27 Augustus omstreeks 23:30 ook deur twee vermeende inbrekers aangeval en aangerand is. (Streeknuus, 9 September).

In die gemeenskap van Eloff het die vraag ontstaan of die twee rowers wat doodgeskiet is, moontlik dieselfde kan wees wat vir Tyack aangerand het.

Verskeie inwoners van Eloff het Streeknuus meegedeel dat Tyack se aanvallers moontlik twee buitelanders is.

Coetzee het ook gesê die twee betreders wat doodgeskiet is, is moontlik buitelanders. Teen druktyd is die identiteit van die oorledenes nog nie bevestig nie.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button