Dr Mollie Lyons neem bestek op van laaste 18 maande by ouetehuis op Standerton
Hoewel daar ’n groot behoefte aan berading bestaan, is sy van mening dat daar gesinne met gesonde strukture is.
Kosmos Aftree-oord op Standerton het ’n paar bestuursveranderings oor die afgelope jare beleef, maar loop nou op geoliede ratte.
Dr. Mollie Lyons en Sanpat Coetzee het vir geruime tyd aan die stuur van sake gestaan en sedert Maart vanjaar, is Coetzee amptelik as bestuurder aangestel.
“Deur die genade is die oord op ’n beter plek as 18 maande gelede,” het dr. Lyons tydens ’n onderhoud gesê.
Sy het dit geheel en al aan die ondersteunende gemeenskap, kerke, die direksie, bestuur en personeel se bydraes toegeskryf.
Ter stawing van haar standpunt, het sy voorbeelde uitgelig waar die gemeenskap, sonder om ’n oomblik te huiwer, ingespring het om te help.
LEES OOK: SANBS’ Teksa branch commemorates blood donors on milestones
Tydens hul geldinsamelingsinisiatief by Val Boeredag het die behoefte aan gewillige pannekoekbakkers op een stadium bestaan en ’n boodskap of twee later op ’n sosiale platform, het verseker dat die gasstofies aan gebly het.
Die groot kleinhandelwinkelgroepe op die dorp staan hul ook mildelik by.
Tydens die basaar, met een oproep van so ’n aard, het vetkoeke opgedaag toe die vraag daarna die hoogte ingeskiet het.
Die gemeenskap het die basaar goed ondersteun, waarvan die aantal geparkeerde motors teen 10:00 ’n aanduiding van die belangstelling was.
Personeel van die tehuis is lof toegeswaai vir hul uitnemende bydrae tot die gladde verloop van sake..
“’Daar word gesê ’n mens is ’n gebore onderwyser of in die wieg daarvoor gelê,” het sy gesê.
“Ek het nie woorde om dié spesiale personeel van die oord te beskryf nie.”
Voorts doen kerke oor alle denominasies heen hulle deel, soms onder die radar. In sosiale konteks, skep die inwoners betekenisvolle aktiwiteite en maak ten volle gebruik van die geselskap op hande.
“Hoeveel inwoners se kinders en kleinkinders is nie meer in die land nie?
“Sommiges het geen familie in die land nie. Ek het baie lewenslesse by die tehuis geleer.”
Dr. Lyons het daarop gewys dat jou gedagtegang deur die jare toenemend versterk en gemaan dat ’n mens versigtigheid aan die dag moet lê, as jy die laaste pylvak ingaan.
“Ongelukkige mense oefen nie hul reg tot geluk uit nie.”
Met haar grondige akademiese – en senior bestuurservaring, sal sy teen die einde van die maand hoofsaaklik op haar praktyk as bedryfsielkundige fokus.
Sy het in 2015 na poste by verskeie akademiese instellings na Standerton teruggekeer en ’n praktyk in 2018 op die dorp oopgemaak.
Die ouetehuiservaring is beskryf as ’n bevestiging van hoe sy na die dorp se mense verlang het.
Hoewel daar ’n groot behoefte aan berading bestaan, is sy van mening dat daar gesinne met gesonde strukture is.
Dr. Lyons is bowenal oplossingsgedrewe.
“As ons die kennis, waardes en ingesteldheid van inwoners toepas, kan ons die dorp omdraai,” het sy mee afgesluit.





