Volgens oorlewering bestaan die Delmas Rolbalklub reeds vir die afgelope 50 jaar. Die klub is in 1972 gestig en kan vanjaar hul halfeeu se bestaan herdenk.
Tydens die afgelope 50 jaar het daar menige balle op hierdie baan gerol, het spelers gekom en gegaan en was komitees gekies om die sake van die klub op die hart te dra.
Die bestuur het dit goed gedink om die klub se getroue ondersteuners vir ’n dag se vrolike vieringe te nooi.
Die besigheidsliga-spanne het op Saterdag, 1 Oktober teen mekaar te staan gekom en in ’n gemoedelike stemming het hulle teen mekaar meegeding.
LEES OOK: Shihan teaches at karate training camp in Kinross
Daar is 14 koppe gespeel en 10 spanne het sake op die baan uitgespook.
Na afloop van die wedstryd het die president van die klub, Hennie Terblanché, die besigheidsliga se deelnemers en borge bedank vir ’n suksesvolle dag.
“Hierdie ondersteuning is vir ons goud werd, julle harte en hande is oop en daarvoor is ons klub dankbaar,” het hy gesê.
Terblanché het sy klublede en komitee bedank vir die harde werk wat agter die skerms gebeur het om van die 50ste bestaansjaarvieringe so ’n groot sukses te maak.
LEES OOK: 70 participants gear up for parkrun in Standerton
Suzette Botes het namens die klub die borge, Studiegroep, Schoeman Boerdery, Pionne, Delkor, We Meat Again, MR Brokers, N.G. Kerk-wes, Hoërskool Delmas, Die Hervormde Kerk van Delmas, Pick’n Pay, Nova Carwash, Farmers Meat, Delmas Afgri en Rebel, bedank.
“Dankie aan elkeen van ons borge. Sonder jul bydraes, hoe klein of groot, sou die dag nie moontlik gewees het nie,” het Suzette gesê.
Barry Botes het die prysuitdeling waargeneem. Die wenners was die vrouespan van Pionne 2. Die Pionne-mans het met die tweede plek weggestap en in die derde plek was die Studiegroep.
LEES OOK: Secunda Action Sport spring finals take place in October
Soos in elke wedstryd moes daar ook ’n span aangekondig word wat so effe moeilike dag op die baan gehad het.
Daardie span was Pionne 1 en hulle het die prys vir ‘die langste dag’ verwerf.
Na afloop van ’n paar goeie balle in die bloedige warm son op die baan, die prysuitdeling en die bedankings was dit tyd vir lekker saam kuier.
Die klub het gesorg dat elkeen van hul gaste en borge behoorlik bederf word met musiek en eetgoed by keurig gedekte tafels onder die sterrehemel.













