Standerton Gholfklub se Gerrit Coetzee wys sy slag by twee wedywerings
Sowel Deon Grimsell as Attie van der Westhuizen het ’n kolhou aangeteken.
Gerrit Coetzee het die afgelope naweek aan die Limpopo Senior Ope deelgeneem en in die gesamentlike derde plek geëindig.
Coetzee het ook onlangs aan die Ekhurhuleni Senior Ope by State Mines Gholfklub deelgeneem en algeheel eerste in die netto-afdeling geëindig.
Die spel het oor 36 putjies plaasgevind oor twee dae waar altesaam 85 spelers mekaar die stryd aangesê het.
Coetzee het algeheel vierde in die gross-afdeling geëindig.
Spelers het op Saterdag 5 November sake by die maandelikse beker uitgespook.
Die Standerton Advertiser het ’n voëltjie hoor fluit dat Jannie Nichols sy reputasie gestand gedoen het.
Die uitslae sal so gou moontlik gepubliseer word.
Sowel Deon Grimsell as Attie van der Westhuizen het ’n kolhou aangeteken.
Jaco Sutherland het die septer op Woensdag 2 November geswaai nadat hy oor 18 putjies ’n netto van 33 aangeteken het.
Dié kragmeting by die Standerton Buiteklub was in medal-formaat.
Gert du Preez en Gerhard Brits het albei met 34 geëindig, terwyl die driestuks van Wikus Fourie, Stephen Nortjé en Henk Botha elk 37 op die telkaart ingevul het.
Attie Mouton se 38 is gevolg deur Ronald Kinnear en Wessel van der Merwe, wat albei 39 behaal het.
Die agterhoede is gevorm deur Ben Steyn se 45. Du Preez en Sutherland het albei ’n spog-twee behaal.










