Pieter van der Merwe van Standerton woel en werskaf in die kunste
Met sy onderneming wat geleidelik begin sneeubal en die privaatbestellings wat instroom, is sy ure met werk gevul.
Pieter van der Merwe doen ’n balanseertoertjie om sy kreatiwiteit en sakevernuf te verfyn.
Dié perfeksionis is reeds geruime tyd aan die skilder en beplan om nou hokaai te sê vir galery-uitstallings. Hy wil eerder fokus om sy potloodsketse, waarvan die aanvraag hoog is, self te bemark.
Pieter se planne om by ’n gastehuis op die dorp ’n galery en koffiewinkel te begin, is deur die verwoestende uitwerking van die pandemie gekortwiek.
Sy destydse studies in grafiese ontwerp by die Universiteit van Johannesburg en betrekking as industriële ontwerper in Kaapstad vir sewe jaar, het hom die nodige agtergrond gegee om privaatbestellings te neem.
Hy omarm die skoonheid van die diereryk in die natuur en spesialiseer op wilde diere, wat tot in die fynste besonderhede weergegee word.
Geen klein details ontgaan hom nie.

Sover as die Wes-Kaap en Hoedspruit in Suid-Afrika of selfs oorsee kom die oproepe vir ’n kunswerk.
Celestie Bailey van Standerton het hom van jongsaf touwys gemaak en Pieter gee nou self kunsklasse.
Hy het nooit kuns as skoolvak geneem nie en vir 17 jaar kunslesse geneem.
Sou sy studente verveeld raak met potloodsketse, is hy heeltemaal gereed om na ’n ander medium te beweeg.
“Ek werk in al die mediums sedert Graad Een,” sê Pieter.
Hy het soos gebruiklik, aan die begin van die jaar sy kop kaalgeskeer en werk tans aan ’n skets van ’n leeu.
“Dit neem jare om ’n sterk naam in die kunsbedryf te vestig,” het hy gesê.
“Dit gaan moeilik vir ’n kunstenaar wat nog nie naam gemaak het nie.”
Sy studio by die huis, gestroop van onnodige tierlantyntjies, is gerieflik ingerig om natuurlike lig deur te laat.
’n Kunstenaar soos Leonardo da Vinci het ’n blywende indruk op hom gemaak juis oor sy veelsydigheid as ingenieur en kunstenaar.

Met sy onderneming wat geleidelik begin sneeubal en die privaatbestellings wat instroom, is sy ure met werk gevul.
Die hele jaar is reeds volgeboek.
Dié man het aanvanklik daarvan gedroom om ’n motorontwerper te wees, maar die lewe het hom in ’n ander rigting gestuur.Pieter is ’n boorling van die dorp en het in 2007 aan Hoërskool Standerton gematrikuleer.
Sy ouers het intussen na Witrivier verhuis.
Met die kuiers vanaf Kaapstad na sy ouers op Standerton, het hy in Mei 2019 vir Almay ontmoet en hulle bou saam aan die toekoms.
“Dit kan net beter gaan,” het hy afgesluit.



