Jagtersvereniging skop jaar af met vergadering op Secunda
Belangstellendes is welkom om by die Houtkapper-tak op Secunda aan te sluit.
Basie Bergh, president van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging, was die spreker en eregas by dié vereniging se Houtkapper-tak op Secunda se lede-vergadering wat op 25 Januarie plaasgevind het.
Die tak het ook ’n nuwe bestuurspan gekies wat bestaan uit Wimpie Brits (voorsitter en skiet-koördineerder), Johan Janse van Vuuren (ondervoorsitter, junior- en senior opleiding en bewaringskoördineerder), Liezel Brits (skietkoördineerder, sosiale media en voorsitter van PA en junior opleiding), Cobus Storey (tesourier, bewaringskoördineerder en haelgeweer), Mark Kruger (sekretaris, kommunikasie en lede admin), Andrikos Alexandrou (skietkoördineerder en haelgeweer) en Jan Venter (skietbaan logistiek en faktotum).
Lede het die kalender vir 2023 bespreek en beplan om ’n Pa en Kind-kamp aan te bied in Oktober asook verskeie skiet-aktiwiteite soos spore soek, braai en oornag-kampe.
LEES OOK: Lanie Nel van Standerton Rolbalklub seëvier in rolbalkompetisie
Dié tak beplan ook om vanjaar ’n uilhuis en ’n vlermuishotel op te rig. Vlermuise help met die vermindering van vlieë en muskiete.
Bergh het gesê hy beplan om al die takke van die Suid-Arikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging in die land te besoek.
Hy het gepraat oor die tydperk wat ’n president van dié vereniging as president kan dien.
Hy het ook verduidelik wat die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging vir lede kan beteken en daar is gefokus op elke bestuurslid en hul rolle in die tak.



