Local newsLocal sportNewsStreeknuus

Delmas skop rugbyseisoen af

“Daar is nog baie werk wat gedoen moet word, maar die spelers lyk baie belowend vir die jaar wat voorlê."

Die Phoenix Rugbyklub van Delmas het op 17 Februarie die 2024 rugbyseisoen met twee vriendskaplike wedstryde teen die klubs van Benoni en Groblersdal afgeskop.

Die wedstryde is op die rugbyveld van Hoërskool Delmas gespeel. Phoenix se tweede span het om 14:00 teen Benoni se tweede span op die veld gedraf.

Met die blaas van die eindfluitjie het die span van Benoni getriomfeer. Die dag se hoofwedstryd was dié van Phoenix se eerste span teen Groblersdal wat om 16:00 afgeskop het.


Phoenix Rugbyklub wys wie is baas tydens die lynstaan.

Ook in hierdie wedstryd het Phoenix die spit afgebyt. Phoenix se afrigter, Jandré Senekal, voel egter dit is slegs die begin van die seisoen.

“Hierdie wedstryde was vir ons as span belangrik en ek as afrigter kon hieruit wysraak wat ek wou weet vir die beplanning rondom die ligaseisoen wat binnekort afskop,” het Senekal gesê.

Senekal het genoem hy was deeglik bewus daarvan dat Groblersdal ’n baie sterk span is wat ook in ’n ander liga deelneem, maar dit was belangrik vir hul spelers om hierdie oefening in te kry.


Lethabo Sathekge laat loop met die bal.

Senekal het ook gesê die tweede span se wedstryd het baie goed begin, maar die fiksheidsvlak is nog nie op standaard nie.

“Daar is nog baie werk wat gedoen moet word, maar die spelers lyk baie belowend vir die jaar wat voorlê.

“Albei die wedstryde was harde, maar lekker wedstryde en ’n goeie begin vir ons spelers. Dié wedstrydtyd het presies op die regte tyd gekom.”


Lethabo Sathekge in aksie vir Phoenix se eerste span.

Senekal en Phoenix se bestuur bedank die toeskouers wat daar was om die twee spanne te ondersteun.

“Dit beteken baie vir ons spelers as ons gemeenskap daar is om hulle aan te moedig. Ons sien daarna uit om bobaas rugby aan elkeen te bring.

“Dankie ook aan al die vrywillige hande wat gehelp het met die reëlings rondom die dag se wedstryde en die bemanning van die snoepies.”

Senekal het voorts die borge bedank. “Sonder ons borge se mildelike ondersteuning sou hierdie dag se rugby nie moontlik gewees het nie.”


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button